Local NewsNewsUpdate

[FOTO’S NIE VIR SENSITIEWE KYKERS NIE] Oud-skoolhoof kom af op grufonds op plaas

Jas Hansen, oud-skoolhoof van Hoërskool Piet Potgieter, sê hy is nou klaar met boerdery nadat hy verlede Donderdagoggend aan Bosveld die grutoneel op sy plaas buite die dorp gewys het.

MOKOPANE – Rampokkers het sy beeste grusaam vermink en geslag.

Hansen het emosioneel op die toneel gevra: “Kan julle dit beleef? Ek kan nie glo die barbaarse manier hoe hulle die beeste steel nie”.

Hansen het verduidelik die diewe het die beeste se haksenings afgekap wat veroorsaak dat die bees gaan lê en nie verder kan loop nie.

Een van die verse van Jas Hansen (Oud-Skoolhoof van Hoërskool Piet Potgieter) wat se haksening deur veediewe afgekap is.

“So kan hulle vinnig die beeste net so lewend slag en op hulle voertuie laai.”

Hansen vertel hy het Donderdagoggend kort voor 08:00 by sy plaas aangekom en gevind die hek was uit die grond gery.

“Die afgelope twee jaar word daar gereeld beeste in die omgewing gesteel en ek het dadelik onraad vermoed. My vermoede was bevestig toe ek by die beeskraal kom en die wrede toneel sien. Daar was ‘n vers in die kraal wat se senings afgekap was en geen ander bees in sig nie. Ek het verder geloop en op drie tonele in die veld afgekom waar daar beeste geslag was. Drie van die verse was swaar dragtig en sou binne die volgende week tot ‘n maand gekalf het.”

‘n Gebroke Jas Hansen staan verslae en betraag die grutoneel op sy plaas. Bo: Een van die verse van Jas Hansen (oud-skoolhoof van Hoërskool Piet Potgieter) wat se haksening deur veediewe afgekap is.

Hansen sê hy sal die gewonde vers ook van kant moet maak en beraam die skade tussen R30 000 en R40 000.

“Die wreedheid wat gepaard gaan met dié dade is onmenslik en iets wat ek nie kan verstaan nie.”

Hansen sê hierdie insident het sy liefde vir boer ook nou heeltemal gesmoor.

“Ek staak die boerdery en die beeste wat ek nog het gaan ek so gou as moontlik verkoop.

“Wat met die plaas gebeur gee ek nie meer om nie, wie sal dit in elkgeval wil koop? Ek boer nie vir rampokkers nie.”

Die Woordvoerder van Mokopane SAPD, Irene Masingi, het bevestig ‘n saak van veediefstal is geopen en word ondersoek.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button