Local NewsNews

‘Glimlag-Jacques sterf te skielik’

Daar is min mense wat in hul lewe te doen gekry het met Jacques Duvenhage en hom nie beskryf as iemand wat altyd geglimlag het nie.

POLOKWANE – Vandag gaan sy glimlag gemis word na sy skielike afsterwe onlangs aan ‘n hartaanval.

Vir sy familie was hy die steunpilaar waar hulle altyd kon hoop vind.

Jacques is op Saterdag, 14 Julie vanuit die AGS Moedergemeente begrawe en sy begrafnis is deur net meer as 200 mense bygewoon.

“Die kerk het aan my genoem dat hulle beplan vir sowat 100 mense maar my woorde aan hulle was dat hy ongelooflik baie mense se lewens aangeraak het en dus glo ek daar sal meer wees. Jacques was iemand wat nooit negatief kon wees of betrokke was in konflik nie. Hy was altyd opgeruimd en het net goeie dinge van mense te sê gehad,” vertel sy ma, Ina.

Sy vertel verder van die impak wat Jacques in die lewens van sy familie en mense saam met wie hy gewerk het gemaak het wat so baie van hom gehou het dat hulle na die verkoop van die besigheid, die nuwe eienaars aangemoedig het om hom ook aan te stel.

“Jacques was nie iemand wat die kans laat verbyglip het om mense te sê presies hoe hy voel nie en vandag kan ek sê dat ten spyte van baie verlange, daar niks tussen my en hom gelos is wat gesê moes word nie. Hy weet ek het hom oneindig lief en ek weet hoe lief hy vir my was,” vertel Ina.

“Ek wil mense graag aanmoedig, of julle hom geken het of nie, om te maak soos hy geglo het en niks te los om eers later te sê nie want jy kry dalk later nie ‘n kans nie. Laat jou geliefdes weet hoe jy voel en maak so seker dat daar geen verwyte by iemand se graf is nie, die lewe is te kort,” vertel sy.

Jacques laat sy ma en twee susters na.

“Ons grappies by elke basaar en mark gaan ek mis. Ons het mekaar leer ken deur die jare en so, sonder dat jy dit weet, het jy diep en mooi spore in my hart getrap. Rus lekker en sien jou weer in die hemel se basaar eendag waar ons weer gaan skerts,” is die boodskap van een van die mense wie se lewe Jacques aangeraak het met sy spontane lag en grappies.

Hy sal onthou word vir sy hulp wat hy sonder vraag uitgedeel het en sy liefde vir mense. Die familie en veral sy ma bedank graag almal, bekend en onbekend, vir hul omgee en ondersteuning.

riana@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button