Local NewsNews

‘Soveel liefde, selfs tot op die bitter einde’

Man vertel hoe sy vrou verbete teen kanker geveg het sodat sy haar eerste kleinkind kon ontmoet

POLOKWANE – “Môre Mamma,” groet Christo Pretorius (51) die foto van sy vrou Andriette steeds elke oggend, na haar afsterwe verlede maand.

Christo probeer die trane terugsluk as hy na die foto kyk en vertel van die vrou na wie hy verwys as sy “soldaat”.

“Jy weet, as ek ooit in die oorlog moet kom sal sy die een wees wat ek saamneem. Ek het nog nooit in my lewe iemand so gesien baklei soos sy nie.”

Andriette is twee en half jaar gelede met borskanker gediagnoseer en het destyds haar storie met Review gedeel van hoe sy dié gevreesde siekte met die hulp en ondersteuning van haar man, Christo, beveg.

Nege maande gelede, na ‘n dubbelmastektomie en talle chemoterapiesessies moes Christo een aand na werk die nuus kry dat sy vrou se stryd nie verby is nie maar dat die kanker toe na haar lewer en beenmurg versprei het. Dokters het gesê hulle moet hulself op die ergste voorberei.

Die kanker was so aggressief en gevorderd dat dokters nie ‘n definitiewe lewensverwagting wou skat nie.

“My hart was aan skerwe maar sy het geweier om te gaan lê en het begin veg teen die siekte wat haar lewe wou neem. Haar hoop en vasberadenheid het egter toegeneem toe sy, kort na die slegte nuus, gehoor het haar eerste kleinkind is oppad,” vertel Christo trots.

Hy vertel dat sy vrou so toegewyd was aan haar werk en gesin dat sy te midde van baie siek wees twee tot drie dae na chemobehandeling, weer terug was by die huis en werk, bereid om haar kant te bring.

“Sy was altyd positief en het nooit toegelaat dat enige van ons van die dood praat nie. Sy het elke dag voluit gelewe en deur die siekwees van die chemobehandeling steeds positief gebly, maak nie saak hoe sy binne gevoel het nie.

“Sy wou net eenvoudig nie opgee nie. Sy het in haar stryd my deurgedra en dit is iets wat ek graag met mense wil deel. Julle moet julle geliefdes kan bystaan tot op die einde; julle sal nooit besef hoeveel liefde daar is tot jy saam met iemand deur so iets gaan nie,” vertel Christo.

Hy vertel verder dat hy in die klein rukkie gesien het hoe die Here werk. Sy vrou is die week na haar eerste kleinkind se geboorte in die hospitaal opgeneem en was baie swak.

“Sy het aanhou veg en wou nie opgee tot sy die kleinding in haar arms kon vashou nie. Sy was die dag nadat sy haar kleinkind vir die eerste keer kon vashou, in die hospitaal opgeneem,” vertel Christo.

“Ek sal nooit die spesiale oomblik vergeet toe Andriette haar eerste kleinkind in haar arms kon hou nie. Sy was ten spyte van die erge pyn so gelukkig en dankbaar. Kort na die kleinding se geboorte, wat na haar vernoem is, het Andriette se toestand verswak en die familie het haar by die hospitaalbed gegroet.

“Die kinders kon aan haar beloftes maak dat hulle sal voortgaan om die goeie voorbeeld wat sy gestel het, uit te leef.

“Ek kon langs haar bed sit en haar gerusstel dat ek na haar kinders sal kyk en dat sy kan gaan rus. Sy het voor my haar laaste asem uitgeblaas en sy is weg. Dit maak seer en ek sal haar vir ewig mis, maar tot op die laaste het sy geveg om by ons te bly,” vertel Christo.

“Ek bedank almal vir hul bystand tydens Andriette se afsterwe en ook met al die reëlings. Ek wou graag die storie deel want ek glo dat mense daar buite moet hoor dat ‘n mens te midde van baie siek wees, steeds alles kan gee.

“Dat mense wat agterbly na geliefdes die kankerstryd verloor het, tot op die einde moet bystand gee.

“Wanneer jy te doen kry met hierdie siekte wat mense wegsteel, weet dat daar mense is soos Andriette wat nie wou opgee nie en dat sy net soos jul geliefdes alles sal gee om spesiale oomblikke te kan deel, maak nie saak hoe siek hulle mag wees nie,” vertel hy.

riana@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button