Local NewsNews

Mighty Men-wonderwerk red jong vrou

Teen die tyd dat die lekeprediker Angus Buchan op 28 April by Nicole Bradbury (23) uitgekom het, het die dokters haar ouers reeds ingelig om van haar afskeid te neem.

POLOKWANE – Waar sy in die bed gelê het, was sy reeds twee weke in die privaat hospitaal. Na haar pankreas verlede jaar verwyder is en sy diabetes ontwikkel het, het sy vanjaar geleidelik gewig verloor.

Teen April het haar niere en lewer reeds begin ingee, sy het vog op haar longe gehad, asook septisemie en sewe verskillende virusse. Dit was nie ‘n mooi prentjie nie.

Nicole was reeds vir twee dae in ‘n koma en het voeding binneaars ontvang. Haar ouers, André en Gwen, was uitstedig en op pad terug, nadat dokters hulle gekontak het.

“Die dokters het gesê ons moet kom afskeid neem. Dit was die naweek van die Mighty Men byeenkoms en Angus Buchan was in die hospitaal om vir die organiseerder van die konferensie, Francois Britz te kom kuier na hy ‘n helikopterval oorleef het.”

Lees ook: [IN PICTURES] Mighty Men Conference ends in high spirits

Hulle vertel hoe hulle verlede jaar Buchan en sy evangelie se It’s Time-byeenkoms in Bloemfontein bygewoon het, en Nicole toe ook in die hospitaal was.

“Toe Angus vir mense gebid het, het ons vir Nicole gebel. Sy wou graag gaan, maar sou baie ver moes stap.”

In die hospitaal verlede maand, het Buchan vir Nicole gebid.

“Hy het vir ons vertel dat hy ‘n doodsreuk gekry het toe hy in haar kamer ingaan. Terwyl hy vir haar gebid het, het haar oë teruggerol in haar kop en sy het na die tyd gepraat van ‘n warm sensasie wat oor haar gespoel het.

Nicole het kort hierna haar bewussyn herwin, en vir Buchan gesê, “ek soek ‘n burger met steak”, aldus haar ma.

Britz vertel dat Buchan vir hom gesê het hy wil geen eer hê vir die gebeure nie, maar dat al die eer God toekom.

“Die familie het vir God gevra en Hy het vir hulle gegee,” het Britz gesê.

Alhoewel Nicole vir nog twee weke in die intensiewesorgeenheid was, is sy later na hoësorg en uiteindelik na ‘n gewone waaksaal geskuif.

Haar gesondheidsprobleme, wat terugstrek na 16-jarige ouderdom, het ingesluit ‘n niersteenoperasie, verwydering van haar galblaas en ‘n abses op ‘n nier en eierstokke, en later ‘n blokkasie in haar kolon. Op 18 is haar milt en blindederm verwyder.

Ondanks dié lys is sy deesdae hoopvol en optimisties. Sy voel beter en is na nege jaar glad nie meer naar nie, iets wat haar voorheen gepla het.

“My suikervlakke is normaal en ek het al my pille weggegooi. Ek wil nie meer pille drink nie. Ek het vir ongeveer ‘n jaar aan slaaploosheid gelei en selfs dit is nou weg.”

Die familie glo dat dit alles met ‘n rede gebeur het. Hulle is ook baie nader aan mekaar.

“Ons wil almal bedank wat dag en nag by Nicole se bed gesit het.”

Dr. Jameel Omar wat Nicole behandel het, het haar beskryf as ‘n pasiënt met ongelooflike deursettingsvermoë.

“Elke terugslag het haar net sterker gemaak. Sy het ook deurentyd die beste ondersteuning van haar familie en vriende ontvang.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button