Local NewsNews

Heidi-Lene nog in hoësorg op herstelpad

Heidi-Lene Jonck het op Sondag, 11 Maart, saam met vriende by die Albasinidam net buite Louis Trichardt gekuier toe sy in 'n fratsongeluk betrokke was.

POLOKWANE – Die Whatsapp-boodskap van Elze-Marie du Preez begin met die woorde “Ek wil juig! Ek wil huil! Ek wil op & af spring van opgewondenheid! Ek is so oorweldig met soveel emosies & so dankbaar dat ons ‘n Lewende God dien!” (sic)

Die rede vir die blydskap is dat dit beter gaan met haar suster, Heidi-Lene, wat soos ‘n kind in haar en haar man, Hagar, se huis grootgeword het.

Heidi-Lene het op Sondag, 11 Maart, saam met vriende by die Albasinidam net buite Louis Trichardt gekuier toe sy in ‘n fratsongeluk betrokke was.

Lees meer: Skenk geld om ‘sonskynkind’ te help

Sy het vir ‘n ruk lank met haar gesig na onder in die water gedryf en nadat sy uit die water gehaal is, het haar vriende haar na die naaste dokter geneem wat voorgetel het dat sy na Polokwane toe kom vir beter hulp.

Sy is oorgeplaas na die Pietersburg Provinsiale Hospitaal waar sy tans behandel word.

Haar linkerbobeen is gebreek en sy het ernstige hoofbeserings opgedoen.

‘n CT-skadering het ‘n skedelfraktuur gewys en haar brein was baie geswel. Sy was onder sedasie geplaas om haar breinaktiwiteite te beperk.

Teen 30 Maart het dokters begin om die sedasie te verminder en kon haar familie ligte reaksies by haar begin opmerk. Van daar was daar elke dag tekens van beterskap. “Ek kan nie elke dag na haar toe gaan nie, maar ons het vriende wat haar besoek en dan vir my vertel hoe dit gaan. Toe ek op 10 April by haar inloer kon ek die beterskap self beleef. As dit nie vir die pleisters om haar mond en ventilatorpyp was nie, is ek oortuig dat ek ‘n glimlag gekry het. Sy het dadelik haar oë oopgemaak toe ek haar groet en het hard probeer om haar lippe te beweeg onder die pleisters. Ek het haar gevra of sy my herken en sy het geknik met haar kop.”

Die dokters was bly oor Heidi-Lene se vordering en het haar van die ventilator begin speen.

“Ek het gevra of sy enige pyn ervaar en sy het haar kop geskud. Ek vee oor haar linkerbeen en vra of sy dit voel en sy knik. Ons God is fantasties. Ek het ook gevra of sy my kan sien, eers met die regteroog en toe met die linkeroog en altwee kere het sy ‘ja’ geknik. Ek moes my trane van blydskap baie hard keer en ek het vir haar gesê ons is ongelooflik trots op haar.”

Heidi-Lene is op 11 April van die ventilator af en het nie ‘n trachea gekry nie. Op 14 April is sy uit die intensiewesorgeenheid oorgeplaas na die hoësorgeenheid.

“Ons was weer Saterdag by haar en dit gaan regtig goed met haar. Sy reageer goed op al ons vrae, alhoewel sy nie praat nie. Haar keel is nog baie seer, asook haar longe, sy het steeds baie slym en hoes elke nou en dan. Sy is steeds maar lomerig en word hartseer wanneer ons moet groet. Gelukkig is besoektyd in hoësorg ‘n uur lank en nie net 30 minute soos in intensiewesorg nie. Hulle monitor haar mooi en was baie vriendelik met ons besoek. Alle Eer aan God,” vertel Elze-Marie.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button