Local NewsNews

Inwoners in rep en roer oor beurtkrag

Vakansieoorde en talle huishoudings gaan in donkerte gehul word indien Eskom beurtkrag in Modimolle-Mookgophong instel vanaf die einde van die maand.

LIMPOPO – Volgens Marlene van Staden, Burgermeester van Modimolle-Mookgophong Munisipaliteit, wil Eskom beurtkrag instel indien daar nie voor 20 Maart ‘n bedrag van R24 miljoen, en ‘n bedrag van R15,7 miljoen voor 29 Maart oorbetaal word nie.

“Ek is bekommerd oor die skadelike uitwerking wat beurtkrag op plaaslike ondernemings en inwoners gaan hê en werk tans hard om dit te vermy,” sê sy.

Van Staden is ook besorgd oor die feit dat die beurtkragskedule op die Paasnaweek en skoolvakansie begin.

Volgens Van Staden het die munisipaliteit in November 2017 ‘n betalingsooreenkoms met Eskom gesluit om te verseker dat die munisipaliteit sy reuse agterstallige kragrekening van oor R200 miljoen stelselmatig kan afbetaal.

“Die Munisipale Bestuurder, Ombali Phineas Sebola as rekenpligte beampte, is daarvoor verantwoordelik om die munisipaliteit se finansies te bestuur en om krediteure pligtig te betaal.”

Van Staden sê sy het ‘n oorsigrol in die verband en het telkemale die finansiële state van die munisipaliteit aangevra sodat sy op hoogte kan bly. “Die munisipale bestuurder het egter nie aan my versoeke gehoor gegee nie.”

Van Staden sê die inwoners betaal elke maand pligsgetrou hul kragrekeninge en mag nie gestraf word omdat die administrasie versuim het om die munisipaliteit se krediteure getrou te betaal nie.

“Ek is vasbeslote om die kwessie op te los en het reeds met verskeie rolspelers in verbinding getree om die afdwing van beurtkrag te verhinder.”

Mokone du Preez, Voorsitter van die Mookgophong Sakekamer, sê gemoedere was hoog tydens ‘n gemeenskapsvergadering Maandagaand. “Die gemeenskap voel hulle was nie ingelig oor die toedrag van sake in die Modimolle-Mookgophong Muninisipaliteit nie en die instelling van beurtkrag het as ‘n groot skok gekom. Ons gaan die situasie nie daar laat nie. Die sakekamers het reeds regshulp ingekry en gaan eerskomende Dinsdag hof toe met ‘n interdik teen Eskom.” Du Preez versoek dat die publiek asseblief die sakekamers finansieel sal ondersteun om regskoste te delg. “Die fondse kan in ‘n trustrekening by die regsverteenwoordigers inbetaal word en die donateurs kan die kostes terug eis van die ontvanger.”

Vir meer inligting kan Du Preez gekontak word per e-pos by mokone.mdp@gmail.com

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button