Local NewsNews

‘Hy het my lewe gered’

[Foto nie vir sensitiewe lesers nie] Die gemeenskap van Tom Burke is in rou gedompel nadat Jasper von Kleist (56) tydens ‘n plaasaanval doodgeskiet is.

LIMPOPO – Sonja Joubert, Jasper se vriendin wat tydens die plaasaanval gewond is, sukkel om tot verhaal te kom na die aanval.

“Ek kan nie glo my Jasper is nie meer by my nie,” vertel sy deur die snikke aan Bosveld. “Hy het my lewe gered. Toe ons die skote langsaan by Nico Solomon hoor klap, het ek en Jasper opgespring. Die aanvaller het toe reeds in die deur gestaan en dadelik begin skiet. Ek is in die arm gewond en Jasper het voor my ingespring om my te beskerm. Hy was in die bors geskiet en het inmekaar gesak.”

Sy sê die aanvaller het weer op haar geskiet waarna sy op die grond geval het en gemaak het of sy dood is.

Die bloedkol in die woonkamer waar Jasper Von Kliest gesterf het.

“Ek glo Jasper het my lewe gered.”

Nico Solomon vertel: “Charlie, my seun, het gisteraand by ons kom eet en na ete toe hy wou ry wou sy hond, Faffa, nie in die bakkie klim nie en het hy aanhoudend geblaf“. Nico sê Charlie het aanvanklik gedink die hond blaf vir ‘n slang en het gaan ondersoek instel.

“Die aanvaller het agter die bos uitgespring en op Charlie geskiet. Charlie het huistoe gehardloop terwyl die aanvaller nog skote afgevuur het. Charlie is in sy regterbeen getref en ek het dadelik vir my vriendin, Amanda Botha, geskree om kamer toe te hardloop waarna ek en Charlie ook na die kamer gehardloop het. Ek en Amanda het die bloeding in Charlie se been probeer stop,” vertel hy. “Charlie is in die Mediclinic Lephalale opgeneem waar hulle die koeël verwyder het. Hy is buite gevaar.”

Marcelle Maritz, Limpopo Leier van die Vryheidsfront Plus het na die toneel gehaas en het ‘n onderhoud met Bosveld toegestaan. “Dit is ‘n vreeslike ding wat die gemeenskap getref het. Ek slaan my hande saam oor hoe die gemeenskap saam staan. Daar was in ‘n oogwink honderde boere wat hulp aangebied het. Ek het met Sonja ook gepraat en sy is nog baie getraumatiseerd. As Vryheidsfront Plus sal ons reël dat die slagoffers trauma-ondersteuning ontvang waar nodig,” sê Maritz.

Polisiewoorvoerder, brig. Motlafela Mojapelo, het die voorval bevestig en gesê die polisie het ‘n soektog van stapel gestuur vir die verdagtes.

“Enige iemand met inligting word versoek om die ondersoekbeampte, kpt. Richard Boshomane, by 079 894 5501 te kontak,” het Mojapelo gevra.

readaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button