Local NewsNewsUpdate

Bossie Bosman weer tuis in SA

Kort 'ruskans' vir Bossie in SA voor hy weer langpad aandurf

POLOKWANE – Bossie Bosman het besluit om sy reistog van Polokwane na Egipte kort te knip en huiswaarts te keer sodat hy volkome kan herstel na ‘n ongeluk op 22 Desember sy planne in die wiele gery het.

Dié ongeluk het in Ethiopië gebeur en sy voet was baie erg beseer. Hy het sedert die ongeluk al verskeie operasies ondergaan en is op die herstelpad maar het besluit om sy avontuur vir eers op ys te plaas. Hy het vandag (Vrydag) geland op OR Tambo lughawe. Bossie sal eers rehabilitasie en fisioterapie moet ondergaan om met sy enkel se herstel te help maar hy is vasbeslote om daarna weer terug na Ethiopië te vlieg en sy reis te voltooi.

Lees meer: Bossie kry teëspoed op reis

Die penne en skroewe is onlangs uit sy enkel gehaal en reëlings is getref dat hy na sy ontslag uit die hospitaal in Mawasa op 27 Januarie by ‘n Russiese Ethiopiër, Anna Laserowa en haar seun gebly het. Daar het hy aangesterk en binne dae weer 6 kg opgetel.

Die Limpopo Bikers Council het ‘n bedrag geld geskenk om te help om sy koste te dek, iets wat hulle voorneem om te doen wanneer ‘n motorfietsryer in ‘n ongeluk betrokke is en in die hospitaal opgeneem moet word.

Lees meer: Bossie in die bosse – uiteindelik hoor ons van hom!

Bossie het intussen na sy ontslag verlede Vrydag sy motorfiets gaan haal waar dit na die ongeluk by ‘n polisiestasie gestaan het. Die motorfiets sal by Anna se huis staan tot hy weer terugkeer om sy reis te hervat.

Daar was wel geluk by die ongeluk en só beskryf Bossie die ervaring toe hy sy motorfiets by die polisie gaan haal het: “Mense, was ek al bly! Ek kom by my fiets, maar hy’s rooi van die grond ek kan nie vir julle sê watter emosies het ek hier beleef nie! Hulle dra jou op die hande en niks is weg of beskadig nie, ek het my sleutels vir ‘n wildvreemde gegee en hy is met die fiets daar weg en ek was agter op bakkie hospitaal toe. Veertig dae later toe ek by my fiets kom is daar niks weg of verkeerd nie. Amen, wat ‘n blessing! (sic)”.

nelie@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button