Local NewsNewsUpdate

Bossie kry teëspoed op reis

Bossie Bosman, wat op pad is na Egipte op sy BMW motorfiets, was betrokke in 'n ongeluk in Ethiopië op 22 Desember en is steeds in 'n hospitaal in Awasa, met 'n uitsig op die Awasa-meer.

POLOKWANE – Bossie se enkel was ernstig beseer nadat hy vir ‘n vragmotor wat voor hom ingedraai het uitgeswaai het en hy toe in die los gruis geval het en sy linkerenkel vergruis het.

Die tibia het deur ‘n gat aan die regterkant van sy enkel gesteek en sy fibula het drie breuke opgedoen.

Lees meer: Bossie in die bosse – uiteindelik hoor ons van hom!

Hy het op 31 Desember op die WhatsApp ondersteuningsgroep van sy ongeluk laat weet en gesê dat hy in ‘n hospitaal in Awasa in Ethiopië lê. Lede van die ondersteuningsgroep het na die Suid-Afrikaanse ambassade uitgereik waarna ‘n gesant van die ambassade met Bossie in verbinding getree het.

Hy laat weet ook dat hy 10 kg in net soveel dae afgeskud het; hy het toe reeds twee operasies ondergaan.

Op 7 Januarie laat Bossie weet sy voet is baie seer en dat dit bloei as hy probeer loop en beweeg.

Hy het op Maandag, 15 Januarie nog ‘n operasie ondergaan waartydens hy ‘n versterkingsplaat asook skroewe in sy enkel gekry het.

Bossie was vir ‘n ruk van die lug af nadat sy rolstoel gesteel was en die plek waar hy WhatsApp sein kon kry sowat 50 m van sy bed af was. ‘n Boodskap is uiteindelik verlede Donderdag vanaf ‘n vrou uit Ethiopië ontvang dat dit met hom goed gaan. Later die dag het die vrou, Anna Lazareva, laat weet dat hy baie pyn het en dat hy nog met sy reis na Egipte wil voortgaan ondanks talle op die ondersteuningsgroep se versoeke dat hy eerder na Suid-Afrika moet terugkeer.

https://www.citizen.co.za/review-online/237871/35-000-km-op-die-rug-van-sy-ysterperd/

Bossie het intussen laat weet dat dit nie goed met hom gaan nie en dat hy bloedsirkulasieprobleem in die beseerde voet het.

Foto’s wat hy stuur wys ‘n erg geswelde voet en volgens Lazareva is sy wond besig om te heel, maar hy sal nog ‘n ruk in die hospitaal moet bly voor ‘n laaste operasie gedoen sal word wat deur ‘n rehabilitasieperiode gevolg sal word totdat hy weer behoorlik kan loop.

Bossie sal wanneer die penne uitgehaal word kan sien hoeveel beweging sy voet het en sal dan besluit wat hy verder gaan doen.

nelie@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button