NewsSchools

‘Juffrou Jackie’ laat diep Voetspoortjies in kinderharte

Met die vriendelike glimlag en oop arms waarvoor sy reeds so bemind onder van die stad se kleuterouers is, groet Jackie Smith die kleuters vroegoggend by die skool - haar skool.

POLOKWANE – Jackie het verlede jaar besluit om haar eie kleuterskool, Voetspoortjies, oop te maak na “haar seisoen van agt gelukkige jare” tot ‘n einde gekom het by Osieteddies Kleinkindontwikkelingsentrum.
Dis juis hiér waar talle ouers se kleuters onder haar bekwame hande bevoeg geraak het op vele terreine.
“Ek het na agt gelukkige jare by die kleuterskool besef dat ek my vlerke moet sprei en iets nuuts moet probeer. Ek het met ‘n swaar hart bedank,” vertel sy.
“Ons het besluit om ‘n ander huis te koop en dan maak ek my eie plek oop.
“Ons was baie gelukkig om die perfekte huis te kry. Daar is ‘n deel wat ons kan gebuik vir die nuwe skool.”
Die naam ‘Voetspoortjies’, vertel sy, het vir hierdie raakvatjuffrou ‘n dieper betekenis.
“Wanneer ek voetspore hoor, dink ek aan Jesus wat langs jou loop, en jou met tye dra. In die Bybel sê Hy, ‘laat die kinders na My toe kom’.
“Ek wil nie net kinders in ‘n skool hê nie, ek wil ‘n geestelike invloed op die mense en kinders in my lewe hê,” vertel sy.
By Voetspoortjies is daar tans plek vir 20 kleuters tussen die ouderdom van 18 maande en drie jaar. Voetspoortjies is slegs halfdag oop en ontbyt word aan die kleuters bedien. Daar is ook twee assistente.
“Ek het vir agt jaar met die driejariges gewerk en ek het ondervind dat onderrig vir kleuters meer sensories en grootliks motories gefokus moet wees. Ek gaan ook met hulle musiek, en grootmotoriese oefeninge, doen. Ek het ‘n behoefte in daardie ouderdomsgroep gesien,” vertel sy.
“Ek sien uit na hierdie nuwe fase in my lewe,” sluit sy af.
maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button