Local NewsNews

Pietie, ou ryperd ry pad tesame deur gr.12

Martin van Schalkwyk het nie toegelaat dat sy gebrek aan vervoer hom, of sy perd Steps, stuit om sy matriekjaar te slaag nie.

POLOKWANE – Een van Hoërskool Pietersburg se matrikulante, Martin van Schalkwyk, het nie toegelaat dat sy gebrek aan vervoer in die pad van sy onderrig staan nie.
Dié vasberade jongman het in 2016, gedurende sy gr. 11-jaar, drie keer noodgedwonge met ‘n perd skool toe gery sodat hy nie as gevolg van gebrek aan vervoer sy klasse mis nie.
Verlede jaar, in sy gr. 12-jaar met die besef dat sy studies uiters belangrik is vir sy toekoms, het hy ses keer op die rug van sy perd, Steps, skool toe gery.
“In ‘n stadium het my gebrek aan vervoer skool toe daartoe gelei dat ek vir langer as ‘n maand nie skool kon bywoon nie. Die Skoolhoof, Willie Schoeman, het my ingeroep en gevra hoekom ek so lank van die skool afgebly het.
“Ek het my situasie aan hom verduidelik en gesê die enigste opsie vir my om dié probleem op te los is om met ‘n perd skool toe te ry tot my vervoer uitgesorteer is.
“Hy het ingestem dat ek met ‘n perd skool toe kon kom en vir my ‘n plek agter sy huis, wat op die skoolgrond is, aangebied waar ek my perd kon laat staan.
“Ek het self vir die perd ‘n kamp vir dié doeleinde agter sy huis gebou,” vertel Martin.
Waar dié perde waarmee hy skool toe gery het vandaan kom, vertel Martin hy het genoeg geld gespaar deur los werkies te doen om aanvanklik een perd, en later meer perde, te koop.
“Ek het al van kindsbeen af ‘n groot liefde vir perde en alhoewel ek my perd moes verkoop het toe ek vanjaar na Mooirivier getrek het, sal ek moontlik nou die geleentheid kry om met perde te boer,” voeg hy met ‘n breë glimlag by.
Martin vertel alhoewel sy deursettingsvermoë en boer-maak-’n-plan uitkyk hom nie enige onderskeidings besorg het nie, het hy wel sy matriek geslaag en werk hy tans aan die moontlikheid om ‘n beurs te kry waar hy landbou wil studeer.
“Landbou is iets wat my baie na aan die hart lê, veral landbou wat diere betref, omdat ek juis ‘n groot passie vir diere en de buitelewe het.”
Sy raad aan leerders wat self sukkel is om nie toe te laat dat hulle omstandighede hulle van hul drome weerhou nie.
“As jy oor ‘n struikelblok val, staan weer op, stof jouself af en probeer weer.
Moenie opgee nie en moenie toelaat dat iets jou terughou nie.”

Inlas: Wilie Schoeman (PHS, Skoolhoof) sê hy is trots op Martin van Schalkwyk en sy deursettingsvermoë om nie skool mis te loop nie.

Schoeman het aan Review vertel hoe trots hy op Martin se vasbeslotenheid en bereidwilligheid om ‘n plan te maak sodat sy omstandighede hom nie onder kry nie is.
“Ek is trots op Martin en die feit dat hy sy gr. 12-jaar geslaag het. Hy is ‘n voorbeeld vir ander leerders om nie toe te laat dat enige iets hulle onder kry nie.
“Die kind se deursettingsvermoë is die bewys dat waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg en ek vir een is baie bly dat Martin verder gaan studeer.
“Hy was voorwaar ‘n voorbeeld,” voeg Schoeman by.
riana@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button