Local NewsNews

35 000 km op die rug van sy ysterperd

‘n Bekende inwoner en voormalige besigheidsman van die stad, Bossie Bosman (64), vat binnekort die langpad na Egipte op sy BMW 800cc Adventure, Kaïro toe

POLOKWANE – Bossie wou graag al op pad wees, maar wag nog vir ‘n veelvuldige toegangsvisum vir Soedan. “‘n Ander ou het nou teruggekeer na Suid-Afrika – hy het in Kartoem gewag vir sy visum om in Soedan te kon ingaan.

Hy het lank gelede reeds aansoek gedoen en gedink hy sal dit op pad in Kartoem kry, maar wag reeds ses weke lank daar vir die visum. Ek kry nou op een slag ‘n veelvuldige toegangsvisum en dan hoef ek nie iewers te wag vir myne nie,” vertel Bossie, wat reeds Sondag met ‘n padgebed weggestuur is op sy reis. Hy hoop om teen vandag nuus te ontvang oor die visum sodat hy kan vertrek.
Sy BMW Adventure dra ‘n gewig van 70kg, wat sy tent, matrassie, klere, toiletware en kos vir 100 dae insluit. Sy motorfiets is ingerig en toegerus en gemodifiseer en reg vir die pad, met binnebandlose bande, geskik vir alle terreine en ‘n spesiale ketting. Die fiets moes ook gemodifiseer word om op ongeloodte petrol te ry, want loodvrye petrol is nie orals te kry waar Bossie gaan ry nie.
“Ek sal die tog met geen ander fiets aanpak nie,” vertel hy. “Ek weet hy kan 650 km gemiddeld op ‘n tenk petrol kry – toe ek in Angola was het ek 25,56km/l gekry.”

In 2015 het Bossie ‘n reistog van 10 000km oor 37 dae na Namibië aangepak en die land van hoek tot kant deurkruis en in 2016 het hy oor ‘n afstand van 10 700 km Angola in 38 dae verken. In Desember 2016 het hy die Malawimeer vanaf die noordelike oorsprong tot by die onderpunt verken.
Hierdie reistog na Kaïro gaan vyf maande lank duur en hy hoop hy sal in Maart 2018 terugkeer. Die motorfiets sal in Nairobi, Kenia gediens word, dan in Egipte en weer in Nairobi wanneer Bossie terugkeer. “Ek is nie soos die ouens wat hulle voertuie op ‘n skip of vliegtuig sit as hulle daar aankom nie – ek ry heen en weer, al die pad.”
Bossie gaan deur 12 lande ry en 17 besoek – hy het ‘n spesiale missie om grondmonsters van sekere ongekerstende lande in Afrika vir dr. Gerrie de Haas te kry, waarvoor dié se gemeente wil bid. Bossie se groot doelstelling is ook om in die rotsgeboude (rock hewn) kerke van Lalibela in Ethiopië te bid en dan die piramides in Egipte te besoek. Die 11 kerke, 645 km van Addis Abeba in Ethiopië, is in die 12de eeu deur koning Lalibela gebou om ‘n ‘nuwe Jerusalem’ te bou nadat Moslems Christelike pelgrimsreise na die heilige stad gestop het.
Bossie se belangstelling in motorfietsry het ontstaan toe hy, as tydrenjaer, ook in nasionale kampioenskappe, Moto-X fietse gery het om fiks te word vir die tydrenne.
Hy het tot 1988 in die Nissan fabriekspan ‘nationals’ gery en toe weer tydrenne gery van 1992 tot 1999. In 2009 het hy saam met die gospelsanger Dewald Gouws aan die Amerikaanse Iron Bud series deelgeneem en 4 800 km in 48 uur gery. Daartydens het hy vir Lodie de Jager, ‘n langafstandryer ontmoet wat op sy “scooter” Kaïro toe gery het, en die gogga het so ook vir Bossie gebyt.
NB: Hou hierdie spasie dop! Sodra Bossie die langpad vat sal hy, eksklusief vir Review-lesers ingelig hou oor waar hy is en foto’s instuur.
 nelie@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button