Local NewsNews

Vrou (81) vermoor in tehuis vir bejaardes, Mokopane

Die Mokopane polisie ondersoek ‘n klag van moord.

MOKOPANE – Die lyk van Hannie van Rooyen (81) is Woensdagoggend in haar woonstel by Herfsland in Meintjiesstraat gevind.

Die Mokopane polisie ondersoek ‘n klag van moord.

Bosveld het ‘n oproep net voor 10:00 van Audrey Mynhard ontvang, volgens haar het sy 07:30 Van Rooyen gaan besoek. “Haar veiligheidshek was oop, maar die houtdeur was toe. Ek het geklop, maar daar was geen antwoord, ek het onraad vermoed en ingegaan,

an Rooyen het op die vloer voor haar kamerdeur gelê. Ek het dadelik hulp ontbied en vir Marcelle Maritz, Limpopo Leier van die Vryheidsfront Plus ook gekontak.

Volgens Mynhard was Van Rooyen se besitting wat op haar bedkassie gestaan het, omgegooi.

Van Rooyen se agterkleinseun wat saam met Mynhard was, het agtergekom dat Van Rooyen se televisie, selfoon en beursie wat in haar handsak was, weg is. Mynhard het aan die mediese personeel gesê sy vermoed dat die omstandighede rondom Van Rooyen se dood suspisieus is en dat die polisie ontbied moet word.  “Dit is vir my ‘n vreeslike skok. Watter tipe mens oorval en beroof ‘n weerlose oumens. Toe ek die nuus gehoor het, het ek dadelik die Heritage Protection Group (HPG) en die Valkebuurtwag gekontak,” vertel Martiz.

Volgens Ben Engelbrecht van HPG het die verdagtes, sinkplate aan die agterkant van die woonstel stukkend gesny en deur die dak toegang tot Van Rooyen se woonstel verkry. “Op die stadium is ons nog besig met die ondersoek en kan geen verdere inligting gee nie.”

John Hagard, Verteenwoordiger van Herfsland se inwoners, sê: “Ons het ‘n groot probleem met veiligheid. Die heining om Herfsland beteken niks, enige persoon kan kom en gaan soos hulle wil. Ons het twee weke gelede ook ‘n inbraak by ‘n ander inwoner gehad.

Die verdagtes weet hier is geen sekuriteit nie en dit is weerbare mense wat hier woon. Die bejaardes kan hulle nie teen gevare verdedig nie”.

Hagard sê Herfsland is ‘n tehuis vir bejaardes en moet ‘n veiligehawe wees waar bejaardes in rus en vrede kan woon sonder om onveilig te voel.

“Dit is ons bejaardes nou ontneem, niemand gaan meer veilig voel nie.”

Kapt. Phuti Ledwaba van die Mokopane Speurtak sê die polisie kan nie nou enige kommentaar lewer nie, omrede die saak nog ondersoek word.

Maritz het gereël dat een van Special Operations Sollutions (SOS) se wagte vir die volgende paar dae die gronde patroleer.

“Ek wil vir Rian, van Doen dit met Rian bedank dat hy die sinkplate vervang het en vir SOS wat die wag beskikbaar gestel het.”

Yolande Coetzee, DA Raadslid, sê dit is kommerwekkend dat misdadigers so maklik toegang tot wooneenhede waar bejaardes woon kan kry. “Die sekuriteit by Herfsland is ‘n probleem en moet daadwerklik aandag geniet. Ek is besig om die probleem met die betrokke instansies te bespreek.”

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button