Local NewsNews

Lorraine benodig nog hulp

Lorraine is drie maande gelede in die hospitaal opgeneem nadat sy met 'n gewas op haar brein gediagnoseer is.

POLOKWANE – Enige ouer se hande voel met tye afgekap as dit by hul kinders kom. Soms is dit na ‘n gebroke hart of ‘n val van die fiets af met ‘n nerf-af knie.

Vir Driena van Rooyen, ma van die 19-jarige Lorraine, is dit nie so eenvoudig nie. Lorraine is drie maande gelede in die hospitaal opgeneem nadat sy met ‘n gewas op haar brein gediagnoseer is. Sy is tans in die Pietersburg Provinsiale Hospitaal.

Lees meer: Gesin benodig dringend finansiële hulp

Tans doen hulle verskeie skanderings voordat hulle ‘n biopsie kan doen om uit te vind watter behandeling die beste vir haar is. Volgens Driena kan hulle nie opereer nie aangesien die gewas te diep in die brein is. Hulle wil eers bestraling doen voordat hulle met chemoterapie begin.

“My kind lê dag in en dag uit in die hospitaal. Alhoewel ons aan die begin gesukkel het met diens, help hulle haar deesdae baie mooi. Sy kan feitlik glad nie sien nie en lê net heeldag. Sy dra doeke want sy kan ook nie meer behoorlik loop om badkamer toe te gaan nie. Sy gaan vinnig agteruit en my hande is afgekap. Ek weet nie watter kant toe nie.”

Alhoewel die mediese sorg gratis is, is daar ander uitgawes wat die familie het.

Driena en haar kêrel, Michael, bly op die Percy Fyfe kleinhoewe, 37 km buite die stad. Drie van haar kinders gaan skool in die stad terwyl ‘n vierde tuisonderrig ontvang en die jongste nog ‘n baba is.

Lorraine van Rooyen is in die hospitaal opgeneem nadat daar ‘n gewas op haar brein gevind is. Foto: Verskaf

“Elke oggend as ek by Lorraine kom, is haar nagklere nat, dus moet ek dit daagliks was. Soms moet ek terug ry kleinhoewe toe om dit te gaan was so my petroluitgawes is baie hoog. Sy raak ook moeg vir die hospitaal se kos en ek koop vir haar vrugte wanneer ek ‘n geldjie het. My suster en Michael se ma maak ook soms vir haar iets om te eet. Ons sal graag vir haar nuwe nagklere wil koop aangesien dit wat sy het al deurgewas is.”

Driena vertel dat met Lorraine wat siek is, en al hulle spaargeld vir dit gebruik word, daar tans ook nie geld is om vir haar seun te betaal vir sy tuisonderrigmateriaal nie. Sy sukkel ook om werk te kry aangesien sy op ‘n vroeë ouderdom reeds uit die skool is.

“Lorraine is Maandag geopereer omdat die dreineringspype verstop het. Die dokters sê reguit dat hulle nie vir ons hoop kan gee nie. Ons glo en vertrou dinge sal beter raak, maar ek is steeds baie bekommerd oor my kind.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button