Local NewsNews

Gesin benodig dringend finansiële hulp

Lorraine van Rooyen benodig finansiële hulp sodat sy ‘n brein biopsie kan kry nadat twee gewasse op haar brein gediagnoseer is.

POLOKWANE – Nadat Driena van Rooyen se dogter, Lorraine (19) in Mei van hoofpyne begin kla het, het hulle aanvanklik nie onraad vermoed nie.

Dié hoofpyne het egter soms so erg geraak dat Driena vir Lorraine, wat by ‘n kleuterskool werksaam was, gereeld by die werk moes gaan haal.

“Ons het haar na vier dokters geneem en nie een van hulle kon die oorsaak van die hoofpyne identifiseer nie. Hulle het aanvanklik gedink dit was eenvoudig as gevolg van haar sinuskanale wat verstop is en het vir haar medikasie daarvoor gegee. Sy het ‘n rukkie later baie begin naar word en gesukkel om te sien. Ons het eers vermoed sy was dalk swanger en nadat ‘n swangerskaptoets positief gewys het, het die dokter dit met ‘n sonar ook bevestig,” vertel Driena.

Lorraine se hoofpyne het steeds voortgeduur en sy het een Saterdagoggend inmekaar gesak en later die dag begin bloei waarna sy weer dokter toe is. Hier het die dokter weer ‘n skandering gedoen en daar was geen teken van ‘n swangerskap nie, alhoewel haar bloedtoetse steeds daarop gedui het dat sy swanger was.

“Die dokter het vermoed dat sy ‘n miskraam gehad het en dat die hormone steeds in haar stelsel was wat tot die positiewe bloedtoetse gelei het. Die dokter het haar huistoe gestuur en vir haar gesê sy moet voortgaan met die pille vir die sinus. Die Maandagoggend het sy by my in die kamer gekuier waar ons gelag en gesels het. Hier het sy haar eerste epileptiese aanval gekry. Sy het agteroor getrek en skuim het by haar mond uit gekom,” vertel haar ma.

Driena het dadelik met Lorraine na die dokter gejaag waar sy ‘n verdere drie aanvalle gekry het.

“Die dokter het gesê hy kon nie verstaan wat die aanvalle veroorsaak nie en toe sy nog ‘n aanval kry het hy gesê sy moet dadelik ‘n CT-skandering kry.

“Die skanderings beloop ongeveer R13 000 en aangesien ons nie soveel geld het nie het die dokter die Pietersburg Provinsiale Hospitaal gekontak en hulle kon ons eers die Donderdag help.”

Driena vertel dat hierdie nuus baie ontstellend was en dat sy die dokter gevra het wat sy moet doen as Lorraine weer ‘n aanval kry waarna die dokter vir haar ‘n voorskrif en inspuitings gegee het om vir Lorraine te gee in die geval dat sy weer ‘n aanval kry.

Op pad huistoe het Lorraine weer ‘n aanval gekry en Driena het haar na die hospitaal gehaas. By die hospitaal is sy opgeneem waarna verskeie dokters haar ondersoek het en een dokter aanbeveel het dat sy onmiddellik ‘n CT-skandering moet kry.

“Sy het vir die CT-skandering gegaan en haar bloedtoetse se resultate is aan die hospitaal verskaf waar daar bevind is dat sy ‘n gewas aan die bokant van haar brein het. Die hospitaalpersoneel het vir haar ‘n drip gegee en verduidelik dat sy ‘n dreineringspypie moet kry om die vog van haar brein te dreineer.”

Lorraine is ook vir ‘n MRI-skandering waar vasgestel is dat daar ‘n tweede gewas aan die agterkant van haar brein is. Volgens Driena kan dokters in Polokwane nie ‘n biopsie doen nie, en is Lorraine na die George Mukhari Hospitaal in Pretoria oorgeplaas.

“Toe ons in Pretoria kom, moes sy vir sewe ure wag om opgeneem te word. Die dokter het reguit vir haar gesê sy gaan doodgaan, want sy het ‘n gewas bo-op en agter haar brein en sy is na ‘n saal geneem waar hul haar in ‘n bed gesit het. Sy was drie dae daar en ‘n dokter het gesê sy kan vir die naweek ontslaan word. Sy is die Maandag weer na die hospitaal waar sy vir ‘n week was terwyl daar talle bloedtoetse op haar gedoen is. In hierdie tyd het die dokter met my gesels en aan my verduidelik dat dit ‘n hoërisiko-operasie is aangesien Lorraine gedurende die operasie kan doodgaan.”

Voor Driena enigsins papiere kon teken om toestemming vir die operasie te gee het dokters weer vir Lorraine ontslaan met die opdrag om die volgende Maandag weer CT-skandering te kry. Sy is weer die Maandag, na die skandering, in Pretoria opgeem.

“Sedertdien word niks vir Lorraine gedoen nie. Sy word net elke naweek huistoe gestuur. Ek het met die saalsuster gepraat en sy het gesê sy verstaan ook nie waarom daar geen aksie geneem word nie maar sy het gesê die dokter het aan haar gesê Lorraine is nog nie in ‘n noodgeval stadium nie.

“Die dokter het ons laat verstaan dat hulle so gou moontlik moet opereer anders kan sy doodgaan maar omdat dit ‘n hoë-risiko operasie is kan sy doodgaan sonder die operasie of gedurende die operasie maar nou word daar net niks gedoen nie en sy word elke naweek huistoe gestuur,” vertel Driena.

Albei Lorraine se oë het erg verswak en haar gedrag word soos die van ‘n kind en Driena is desperaat om haar dogter te help.

“Ons kan nie bekostig om na private dokters te gaan nie en het ook nie ‘n mediese fonds nie. Steve Biko Hospitaal het gesê hul kan dalk help, maar hul wag tot einde September. Ek weet nie hoeveel alles privaat gaan kos nie, maar sy is my enigste dogter. Ek weet nie meer waarheen nie.”

Lorraine is op 5 Augustus weer in die Pietersburg Provinsiale Hospitaal opgeneem en Driena vra hulp sodat daar ‘n biopsie op haar brein gedoen kan word.
Bankbesonderhede:
Rekening naam: BYOF Back on Your Feet.
FNB tjekrekening.
Rekeningnommer: 62707 950 326.
Takkode: 251045.

Review het die probleem onder die aandag van Departement van Gesondheid gebring en die departement se Woordvoerder, Derick Kganyago, het bevestig dat hulle die saak ondersoek.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button