GalleriesLocal sportSportSports galleries

[FOTO’S] Goeie gholf-gees en glorie gholfbaan

Laerskool Krugerpark se KFC Gholfdag wat jaarliks gehou word by die Kameeldoring Gholfklub was vanjaar 'n groot sukses en talle gholfspanne en individuele spelers, junior en senior, het lekker pryse losgeslaan.

MOKOPANE – ‘n Allemintige R215 000 is verlede Donderdag ingesamel tydens Laerskool Krugerpark se KFC Gholfdag op die Kameeldoring Gholfbaan.Volgens Gerda Roos-Hawken, koördineerder, was die dag ‘n ongelooflike groot sukses en was daar 156 spelers wat stokke op die baan kom swaai het met sowat 165 ondersteuners wat gesorg het vir ‘n goeie atmosfeer en gees.

Die 39 junior spelers het dou voor dag afgeslaan om individueel nege putjies gholf te speel voor die res van die spelers om 10:30 afgeslaan het in verskillende spanne met ‘n ‘fourball alliance, scramble drive with masks’ formaat.

Die wenners onder die juniors is na die spel aangewys. RC Beetge het ‘n spoggerige eerste plek verower, Henrico Kruger ‘n tweede plek, Brendon Blignaut was derde en Laumari Hawken was die wenner onder die meisies. Al hierdie spelers is trotse Krugies.

Die res van die spelers se wenners is tydens ‘n prysuitdeling later die aand aangekondig. Die span Afana Cash Loans met spelers De Wet Kruger, Robert Abrahamse, Janco Abrahamse en Antonie Abrahamse is as wenners gekroon met 102 punte op ‘n uittel en het ‘n bed en ontbyt geskenkbewys gewen by Euphoria Gholf Estate en ‘n 18 gaatjies gholf.

Kruger Boekhouers se span was tweede met (101 punte op ‘n uittel). Hulle is Michael de Beer, Ernst Kruger, Wynand Welgemoed en Jaco Visagie. Hulle het elkeen ‘n rooibok losgeslaan.

Die span van Blue Chip Trading het derde geeïndig ook met 101 punte op ‘n uittel en het gholfstokke en gereedskap gewen. Die spelers in die span was Fred Beytell, Cobus van Wyk, Jackie van Wyk en Denis Kemp.

Vier spelers het hulself as goeie gholfspelers op die baan bewys en naaste aan die pen geslaan. Die trotse spelers is Jannie Lusper, Danny van Rooyen, Johanco Welgemoed en Erhard Spies.

Skoolhoof Johan Vertongen is in sy noppies met die dag se sukses. “Ek spreek my dank namens die skool uit aan die ouers en gemeenskap wat die dag ondersteun het. Dankie aan al die borge en spesiaal aan Gerda Roos-Hawken met al haar moeite om die dag bymekaar te trek.”

Vertongen sê hy het dit vreeslik geniet op die gholfbaan en dat die spontaniteit van die ondersteuners ‘n riem onder die hart was. Die geld wat ingesamel is sal vir die ontwikkeling van die skool gebruik word.

Roos-Hawken is verheug dat als goed verloop het. Die leisels sal volgende jaar aan ‘n ander beheerliggaamslid oorgegee word. Sy doen dit reeds vir ses jaar en beskryf vanjaar se beplanning en doen as die beste sover. “Ek is bly dat my laaste jaar so goed geeïndig het.”

lionel@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button