Bosveld NewsNewsSchool sportSport

Driekuns vir HPP se ysters

Die o/16-rugbyspan van Hoërskool Piet Potgieter is ware ysters nadat hulle verlede Saterdag as wenners van die Limpopoliga vir medium skole van die veld gestap het

MOKOPANE – Die skool is ook trots op die huidige o/14- en o/15-spanne wat Saterdag op Tom Naudé se velde hulle wedstryde in die liga finaal gewen het. Om vanjaar drie spanne te hê wat as kampioene weggestap het, wil gedoen wees.

Paul De Bruin oorhandig aan Zander Smit (slot van die o/15 span) sy trofee as die man van die wedstryd.

Renier Labuschagne, afrigter van die o/16’s, sê sy span se wedstryd teen Hoërskool Ben Viljoen van Groblersdal het maar sukkel-sukkel begin, maar William Mohlaloga, Junior Mnisi en Dyllan Jansen van Vuuren het toe die wedstryd laat spoed kry, elk oorgeduik vir ‘n drie. Wiehann van der Kolff het een drie verdoel. Mohlaloga was ook as speler van die wedstryd aangewys.

Die voorspelers het hulle kant by die afbreekpunte gebring en so gesorg dat die agterlyn goeie bal besit kry. Hanteringsfoute het die spel gekniehalter en gemaak dat die telling klein was. Die eindtelling tussen die twee spanne was 17-13.

Paul De Bruin (onderwyser van Hoër Tegniese Skool Tom Naudé) oorhandig aan Sakkie Wessels, (kaptein en stut vir die o/15-span) die Limpopoliga trofee.

Die o/15-span het ‘n skitterende wedstryd gehad met ‘n eindtelling van 36-12. Jaco van den Berg, hulle afrigter, sê die plan was van die begin af om Hoërskool Ben Viljoen so vinnig as moontlik op die agtervoet te plaas sodat hulle onder druk is. Die span het dit reg gekry om vinnig twee drieë te druk en die halftydtelling was 17-5. “Die wendrie word deur Jeandre Nortje onder die pale gedruk. Die span het baie goed saam gespeel en alles toegepas wat in die week geoefen is. Ons sien uit na die Virseker toernooi wat voorlê.”

Die o/14-span van Hoërskool Piet Potgieter het teen Hoërskool Ben Viljoen geseëvier met ‘n eindtelling van 17-13. Afrigter Ruan Potgieter sê: “Teen halftyd het Ben Viljoen voorgeloop met 13-0 en die begin van die tweede helfte was stadig. Die spel is so vinniger gemaak deur die skrumskakel, Darius Booysen.

Die voorspelers van die o/16 span het hulle kant by die afbreekpunte gebring, en so gesorg dat die agterlyn die bal kry.

Die tweedespan van Hoërskool Piet Potgieter was ook in die finaal. Dit was ‘n baie moeilike wedstryd en hulle verloor teen Hoërskool Hans Strijdom met 13-7. Die afrigters, Bradley Pieterse en Deon Klein is egter trots op die spelers. “Hulle het werklik hulle harte uitgespeel en alles gegee tot op die einde.”

HPP se drie wenspanne kwalifiseer vir die Virseker toernooi. Al die spanne speel hulle wedstryde in ander provinsies. Die o/16’s speel Saterdag teen Oosterland in Secunda, die o/15’s teen Barberton en die o/14’s teen Hoogenhout in Bethal.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button