Cheraye Engelbrecht sien uit na haar eerste Comrades. Dit is 'n droom wat waar gaan word al is sy effens op haar senuwees en nie seker wat op haar wag nie.
MOKOPANE – Potties Atletiekklub se atlete is volstoom besig om voor te berei vir die Comrades Marathon wat Sondag, 4 Junie plaasvind.
Vanjaar pak duisende atlete van regoor die land en ook van oorsee die opdraande roete vanaf Durban na Pietermaritzburg aan. Hierby Potties se atlete wat daarna uitsien om die moordende wedloop te voltooi.
Annemari Kruger hardloop vanjaar haar ‘back to back’ Comrades. Dit beteken sy het verlede jaar ‘n afdraande Comrades gedoen en die jaar pak sy die opdraande roete aan. Die atlete kry net een kans om ‘n ‘back to back’ te voltooi, en indien jy dit regkry, ontvang jy twee medaljes, een vir die voltooi van die wedloop en een vir jou deursettingsvermoë om terug te kom. Annemari sê alhoewel sy baie senuagtig is, is sy ook opgewonde en slag gereed.
Khatija Essack pak haar ‘back to back’ wedloop aan. Sy oefen hard en het deur die jaar gewys sy is reg vir die moordende Comrades.
Lucas Khalo is ‘n atleet wat dopgehou kan word. Hy hoop om weer ‘n silwer medalje op te raap. Hy is effe skrikkerig maar mik vir sy beste tyd. Niks sal hom meer gelukkiger maak as hy weer ‘n silwer medalje om sy nek kan hang nie.
Hosea Seabela is effe op sy senuwees, maar glo sy harde werk gaan vrugte afwerp.
Rudine Jansen van Niewenhuizen hardloop haar eerste Comrades. Sy sê sy weet nie wat om te verwag nie, maar is opgewonde en glo alles sal uitwerk wanneer die skoot klap.
Frans Makhubedu is nie ‘n man van baie woorde, maar hy sien uit na sy ‘back to back’ wedloop.
Johannes Molokomme is ‘n ou bekende wat die Comrades al aangedurf het. Hy moes verlede jaar weens ‘n besering onttrek, maar is nou terug en hoop om ‘n Bill Rowan medalje in te palm.
Sarie Coetzee is die klub se ysteratleet. Nie net is dit haar 21ste Comrades nie, maar sy het die jaar ook haar 21ste Om die dam en 20ste Loskop Marathon kafgedfaf. Sarie sê maak nie saak of dit ‘n eerste of 21ste keer is nie, sy bly maar bang. Die Comrades is die wedloop waarvoor sy die meeste respek het.
Estelle Geerkens pak die ultra marathon vir die derde keer aan. Sy is ‘n Bill Rowan atleet en is opgewonde om vanjaar weer klaar te maak.
Philbert Seabela pak sy eerste Comrades aan. Hy is baie opgewonde en kan nie wag nie. Hy sê dit gaan een lang dag wees, maar hy is slaggereed.
Aubrey Baloi hardloop ook ‘n ‘back to back’ wedloop. Hy is baie opgewonde en sien uit na ‘n persoonlike beste tyd.
Josephine Sekhoalelo is ‘n dokter wat ondanks haar lang werksure tyd maak vir oefen. Dit is ook vanjaar haar ‘back to back’ wedloop en sy glo sy sal die opdraande met gemak kan uitdraf.
Elmarie Badenhorst het al die Comrades aangedurf. Vanjaar is sy terug en hoop om klaar te maak. ‘n Goeie tyd sal ‘n bonus wees, sê sy.
Afwesig: Gert Pretorius wat laat weet dit is nie sy eerste Comrades nie en hy weet al wat om te verwag en Collins Bopape wat sy eerste Comrades hardloop. Bopape sê dit is ‘n groot uitdaging, maar hy is slaggereed.
Bosveld wens die atlete sterkte toe.