Local NewsNews

Ma dreig met hof na hospitaal faal

'n Ma is baie ontstoke oor die swak diens wat haar seun by die Pietersburg Provinsiale Hospitaal ontvang het en sy lewe nou volgens haar in gedrang is.

POLOKWANE – Carol Fourie dreig om regstappe teen dié hospitaal te neem omdat haar seun, Jason, na bewering langer as ‘n week in die hospitaal moes wag om geopereer te word.

Sy sê haar seun is na die hospitaal oorgeplaas nadat ‘n dreineringsbuis om vog op sy longe af te trek drie dae voor sy oorplasing vanaf die FH Odendaal Hospitaal deur sy long, maag en borsholte gesteek is. Dit het tot inwendige bloeding gelei.

Sy sê hy is op 30 April vanaf die FH Odendaal Hospitaal na die Pietersburg Provinsiale Hospitaal oorgeplaas om ‘n nuwe dreineringspyp te kry. In die tyd wat hy vir die operasie gewag het, het hy glo talle bloedoortappings gehad en is eers op 10 Mei geopereer.

“Die dokters gee nie inligting deur nie. Ek het vanaf Alberton, waar ek woon, hierheen gekom en moes smeek om ‘n dokter te sien wat my kon inligting gee oor my seun se toestand. Hy was in die intensiewesorgeenheid en het inwendig gebloei. Ek het naderhand gekla en die persoon het net gepraat van ‘that white boy’, waarop ek die persoon daarop gewys het dat my kind ‘n naam en van het. Hy het tussen ou bebloede en vuil bedlinne gelê en die suster aan diens het eenmaal vir hom gesê hy moet ‘shut up’ toe hy gevra het vir pynmedikasie.”

Onhigiëniese toestande in die intensiewe-sorg eenheid het die moeder van die pasiënt tot groot kommer gestem. Regs: Droëe bloed teen die muur in die Intensiewe-sorg eenheid in die Pietersburg Provinsiale Hospitaal. Foto verskaf.

Fourie kla ook oor die beweerde vuil toestand van die eenheid. “Die dreineringspyp was nog aan hom gekoppel en ek kon sien hoe die bloed uit hom tap en hy swakker word. Na bykans twee weke is hy geopereer om sy maag te probeer toemaak en ‘n nuwe dreineringspyp in sy long te sit. Die suur wat uit sy maag geloop het, het intussen sy ingewande beskadig en hy het ‘n infeksie opgedoen. Hulle het eers uitgevind van die infeksie nadat hy in die intensiewesorgeenheid opgeneem is en sy toestand het steeds versleg.

Weens die infeksie moes Jason weer teater toe om sy buikholte skoon te maak. “Daar was heeltyd verskoning na verskoning oor hoekom hy nie geopereer word nie,” vertel Fourie. “Die personeel in die intensiewesorgeenheid was uiters ongeskik en ongeergd oor my kind. Hy moes skriftelik pynmedikasie aanvra. Hy sou uiteindelik weer op Maandag, 15 Mei geopereer word, maar dit het nie gebeur nie.”

Fourie meen die dokters het geweet dat haar seun se toestand kritiek is en dat hy dringend nog ‘n operasie moes ondergaan en teen verlede week Woensdag (17 Mei) het sy hom laat oorplaas na die George Mukhari Hospitaal in Ga-Rankuwa in Gauteng, waar hy geopereer is om sy buikholte skoon te maak.

“Hulle moes hierdie hele operasie tegelyk gedoen het in Polokwane, die maag en die long. Sy long was skoongemaak, maar sy maag was nooit behoorlik gedoen nie. My kind se gesondheid is nou heeltemal benadeel omdat hulle so lank geneem het en nie die operasie gedoen het nie. Sy maag is nou gedoen en die buikholte skoongemaak en hulle sal nou ‘n besluit moet neem of hulle die long, wat steeds platgeval is, kan red of dit verwyder. Ek hou die Pietersburg Provinsiale Hospitaal verantwoordelik vir my seun se skade. Die intensiewesorgeenheid is nie eers geskik nie en die mense blyk onbekwaam om in die eenheid te werk.”

Fourie het vroëer vandeesweek gesê haar seun se toestand is kritiek en sy weet nie of hy weer sal herstel nie.

Gesondheid Woordvoerder, Thabiso Teffo, sê ‘n ondersoek is onderweg, en hulle wag vir ‘n kliniese analise.

nelie@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button