Local NewsNews

Toentertyd se kinders was makliker

Die verantwoordelikheid om 'n kind groot te maak en goeie waardes en beginsels te leer is nie kinderspeletjies nie.

POLOKWANE – Met die oog op Moedersdag wat Sondag gevier word, het Review met drie inwoners van Ons Tuiste gesels oor hoe jare terug verskil het van deesdae om kinders groot te maak.

Nellie Robbertze, Jessie Candiotes en Rina van der Westhuisen se kinders is meestal self in hulle vyftigs, en het volwasse kinders van hul eie, maar oor een ding is dié drie vroue eens: “Ons is en

bly ma’s tot ons die dag ons koppe finaal neerlê”.

“Kinders grootmaak is beslis anders deesdae as toentertyd toe ons kinders klein was. Mens kon kinders makliker leer en opvoed as vandag, waar daar tot wette is wat verhinder dat mens jou hand teen jou kinders oplig,” sê Nellie.

Sy praat beslis nie van mishandeling nie, maar ‘n paar rapse met die plathand op dié deel van die anatomie wat daarvoor bedoel is, op die regte tyd en onder die regte omstandighede het haar kinders beslis nie kwaad gedoen nie, meen sy.

“Vandag se kinders word in ‘n heel ander tydperk groot. Kinders is meer opstandig en moeiliker as destyds. Maats speel ‘n baie groot rol en kan dit vir ouers baie moeilik maak om hulle kinders op die regte pad terug te kry.”

Jessie meen die lewe is tans baie gejaagd en kinders kry nie meer kans om kinders te wees nie.

“Daar is so baie skool- en ander bedrywighede en dit is moeilik om kwaliteit tyd saam met kinders te spandeer as beide ouers werk, maar tye het verander en alles is so duur. Ouers doen baie om vir hul kinders alles te gee wat hulle nodig het. Selfs skoolgeld is ontsettend duur vandag.”

Almal stem saam dat opvoeding by die huis begin. Nellie meen ma’s offer baie, maar met liefde, op vir hulle kinders.

Al drie is dankbaar dat hulle kinders gereeld met hulle kontak maak en is dankbaar vir selfone wat kommunikasie soveel makliker maak. Om liefde te gee en raad wanneer nodig is belangrike eienskappe van ‘n goeie ma, maar Rina meen mens kan ook kwaad word soms en reguit wees, in die kinders se eie belang. Om ‘n biddende ma te wees is nie onderhandelbaar nie, meen die drie.

Jessie sê haar kinders, behalwe vir een wat plaaslik woon, is redelik verspreid regoor die land, maar hulle skakel gereeld en op elke Moedersdag. Almal stem saam dat as hulle weer kon kies, sou hulle graag weer kinders wou hê, en om kleinkinders te hê is ‘n fees.

Almal stem egter saam dat dit heerlik is om ‘n baba bietjie vas te hou en te troetel, maar hulle dae van babawagter speel is verby. “Ons kan nie meer die kleintjies so goed hanteer soos altyd nie. Hulle raak te gou swaar, en ons word moeg. Daar is ‘n tyd om baba’s te hê en te geniet en dit gaan verby.”

Hulle het dit baie geniet toe ‘n kleuterskool onlangs kom kuier het en pakkies koekies gebring het vir die bejaardes, en dink partymaal met heimwee terug aan die tyd toe hulle kinders jonk was en wens so ‘n bietjie om daardie tye terug te kry. “Dit was beslis veiliger as nou.”

Jessie meen dit was makliker om kinders destyds groot te maak en Rina sê alles is vandag daar en mens kan alles koop, terwyl hulle in die ou dae meestal self klere moes maak.

Nellie meen “vandag is dit net geld, geld, geld van begin tot end. Alles is so duur.” Sy sê kinders het destyds meer waarde geheg aan wat ouers vir hulle gedoen het en het meer in die huis gehelp. Selfone en rekenaars is die oorsaak dat kinders vandag nie so aktief is as destyds nie en dit beïnvloed ook kommunikasie in die gesin en met mekaar.

 

nelie@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button