Local NewsNews

‘Onwettig om ekstra bankfooie te hef’

Besighede wat ekstra kaartfooie hef wanneer kliënte aankope doen is in die spervuur.

MOKOPANE – Valerie Bylieveldt, Provinsiale Leier van die NKP, het vandeesweek aan Bosveld vertel dat sekere besighede ekstra kaartfooie hef wanneer aankope gedoen word.

“Ek het verlede week produkte by ‘n besigheid gaan koop waar ek gesê is om ‘n ekstra bedrag van 2.5% kaartfooi te betaal indien ek met my bankkaart wil betaal. Ek het dit maar gedoen omdat ek nie kontant by my gehad het nie”.

Bosveld het die bekende besigheid genader.

Die mede-eienaar het vertel dat hulle 2,78% bankkoste dra wanneer kliënte aankope met hulle bankkaarte betaal daarom vra hulle ‘n 2,5% kaartfooi as kopers met hulle bankkaarte betaal.

Die sakevrou sê sy het agtergekom ander besighede doen dit en toe besluit om dit ook in te stel.

Volgens Eerste Nasionale Bank (FNB) en Nedbank is dit onwettig om ekstra kaartfooie te vra en word dit as bedrog beskou. Dit is teen enige bank, internasionaal en nasionaal se beleid om ekstra kaartfooie te vra of ‘n minimum bedrag te vra wanneer aankope gedoen word. ‘Surcharges’ kan teen jou besigheid gelê word.

George McNickel, Streekbestuurder van Kaart Dienste by Capitec Bank Limpopo sê die volgende: “Om ekstra kaartfooie te vra van kliënte is onwettig en mag nie gedoen word nie. Dit maak nie saak by watter bank die besigheid geregistreer is nie, enigeen kan ‘n klag by die bank, Mastercards of Visa gaan lê sodat die probleem aangespreek kan word.

Gewoonlik lê die bank dan ‘n besoek by die besigheid af om die aksie stop te sit”.

Hy sê die verantwoordelikheid van bankfooie wat ‘n besigheid op kaartfasiliteite het, het niks met ‘n kliënt te doen nie.

Hy sê ‘n besigheid mag ook onder geen omstandighede ‘n minimum-bedragbeleid hê om byvoorbeeld, te sê dat ‘n kliënt nie minder as R50 mag betaal nie. Sodoende dwing dit die kliënt om nog van hulle produkte te koop.

Indien die gemeenskap besighede teëkom wat ekstrakaartfooie of ‘n minimum-bedrag aanvra, moet hulle dit dadelik onder die bank, Mastercards of Visa se aandag bring.

lionel@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button