Local NewsNews

Jaqueline, meer as net ‘n boetiek-eienaar

"Ek glo dat 'n mens tyd moet neem om van jouself aan ander te gee. Dit laat jou weer vol voel."

POLOKWANE – Wanneer ‘n mens die eerste keer vir Jacqueline Ferns ontmoet, dink ‘n mens daaraan dat sy gewoond is aan die lewe in die kollig, asof sy op die rooi tapyt in ontwerpersklere hoort.

Begin jy egter met haar gesels, kom jy agter dat daar, agter die mooi glimlag, ‘n sagte hart skuil.

Jacqueline is bekend vir haar boetiek, Closet Couture, waar sy klere van die bekende ontwerper, Casper Bosman, verkoop. Sy vertel dat sy na haar studies en swerftogte haarself, saam met haar man, Lyndon, in Polokwane kom vestig het en toe ‘n gaping in die mark gesien het vir dié besigheidsidee.

“Ek het in Nelspruit grootgeword en wou graag balletdanser word. Na skool is ek vir ‘n paar maande oorsee om te dans, maar het teruggekom Suid-Afrika toe waar ek in Bloemfontein by die Universiteit van die Vrystaat sielkunde en kriminologie studeer het. Ek kon dit egter nie as beroep beoefen nie, my hart is te sag en ek kon nooit afskakel nie. Ek’t almal se probleme saam met my gedra.”

Na haar studies het sy besluit om ‘n jaar af te neem en oorsee te gaan werk. Sy is na Dubai waar sy as lugwaardin vir Emirates gewerk het. Laggend vertel sy dat die een jaar toe drie jaar geword het.

“Hier het die Here my baie gewys. Ek het geleer wie ek is. Ek het van verskillende kulture geleer en my siening oor baie dinge in die lewe het verander.”

Sy vertel dat deure vir haar een na die ander oopgegaan het en dat sy geleentheid gehad het om nie net haar huidige wenslysie vol te maak nie, maar om nog wense by te voeg.

Een so ‘n wens was om as vrywilliger in Uganda te gaan werk. Sy vertel dat sy ‘n boek gelees het met die titel Boy Soldier en dat dit haar aangespoor het om meer uit te vind oor die kinders in Uganda. Sy is vrou-alleen na Uganda waar ‘n pastoor en sy vrou haar by die lughawe ingewag het en na die weeshuis geneem het.

Jaqueline saam met haar man, Lyndon Ferns.

“Dit was hartverskeurend. Ek het 5l water ‘n dag gehad vir bad, drink en kosmaak. Ek het gesien hoe mense met hulle basiese benodighede oor die weg kom. Ek het besef hoe baie ek het, en ek wou meer vir ander doen.”

Sy vertel van ‘n seuntjie wat twee suigstokkies ontvang het en toe met haar wou deel. “Hy het reeds so min gehad, tog was hy bereid om dit met my te deel.”

Alhoewel sy baie lief is vir kinders, het sy en Lyndon nog nie kinders nie. Hulle het wel drie honde wat soos kinders in hulle huis is en met ‘n knop in haar keel vertel Jacqueline hoe siek haar worshond ‘n klein rukkie terug was.

“Ek spandeer twee dae ‘n week tyd by Ngwana Babahuis waar ek met die kinders speel.

“Ek glo dat ‘n mens tyd moet neem om van jouself aan ander te gee. Dit laat jou weer vol voel. ‘n Mens moet jou omring met positiewe mense en dinge, ook met Goddellike mense, mense van die Here.”

Sy vertel dat alhoewel die Here vir Lyndon presies volgens haar vereistes gestuur het, beteken dit nie dit is altyd maanskyn en rose nie. “Ons sukkel ook met gewone dinge. Hy ondersteun my vreeslik baie en sy opinie beteken baie vir my. Hy is ‘n baie goeie besigheidsman.”

Behalwe vir haar liefde en deernis vir kinders, veral weeskinders, weet min mense dat sy en Lyndon graag ‘n groot familie wil hê en dat sy versot is op Rooibostee.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button