Local NewsNews

Tref-en-trapslagoffer se ma praat

"Ons as ouers oordeel ons kinders te vining. Ons dink aan wat die kind doen en wil nie altyd sien wat werklik aan die gang is nie."

POLOKWANE – “Die probleem is dat ‘n mens nie genoeg tyd maak vir jou kind nie. En voor jy jou oë uitvee is dit te laat.”

Dit is die hartverskeurende woorde van Esmerelda Delport, ‘n ma wat haar dogter, Shannon Sacco, ‘n jaar gelede in ‘n tref-en-trap ongeluk verloor het.

“Ons as ouers oordeel ons kinders te vining. Ons dink aan wat die kind doen en wil nie altyd sien wat werklik aan die gang is nie.”

Shannon, ‘n gr. 11-leerder van Westenburg Sekondêre Skool in Ben Harrisstraat was op pad huis toe na skool toe sy deur ‘n voertuig raakgery is en aan haar beserings beswyk het.

Shannon Sacco. Foto’s: Verskaf

‘n Jaar later praat haar ma met Review oor haar dogter en hoe sy die seer en verlies verwerk.

“Ons lewens het aangegaan maar ek dink baie daaroor. Ek dink oor alles wat anders sou wees as sy nog hier was, dink aan wat sou gebeur het as ek haar nie die dag skool toe gestuur het nie. Daar is so baie dinge wat anders sou wees,” vertel Delport.

Sy vertel wat sy altyd van haar dogter sal onthou was die impak wat sy op mense se lewens gemaak het.

“Ek het nooit geweet hoeveel vriende sy gehad het tot ek na die ongeluk en haar begrafnis met mense wie se lewens sy aangeraak het en gehelp het gesels het nie.”

Sy vertel dat daar ‘n vrou by ‘n bank werksaam is op wie se lewe Shannon ‘n groot impak gehad het.

“Ek het na Shannon se dood eers gehoor dat dié vrou se ma dood is en dat my dogter haar deur die moelike tye bemoedig en gehelp het.

“Die vrou het vir my gesê dat my dogter haar steunpilaar was en sy weet nie wat sy gaan doen nou dat sy nie meer daar is nie,” sê Delport.

Sy vertel dat, as ouers, mense aanneem dat jou kinders jou eendag gaan begrawe en nie andersom nie.

Die hartseer realiteit is dat enige iets kan gebeur, vertel sy verder.

“Ek wil ouers vra om nie hul kinders vanselfsprekend te aanvaar nie. Luister na die kinders en hoor wat hulle sê. Moenie dink ‘ag, maar die kind is lastig nie’ want dit is dalk die laaste keer dat jy met hom of haar kan praat en dan het jy nie tyd gemaak nie. Ons as ouers is baie keer te stadig om te luister, te stadig om tyd te maak. Maak tyd vir kinders en geliefdes, jy weet nooit wanneer dit te laat gaan wees nie,” vertel Delport.

Die hofsaak rakende die tref-en-trapvoorval het Maandag voorgekom en sal weer op Maandag, 10 April in die Mankweng Magistraatshof hervat.

riana@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button