NewsSchools

Blink toekoms wink vir Kruinies se Nicolette

Dié uitblinker het nie net akademies presteer nie maar ook op die sportveld waar sy aan verskeie sportsoortes deelgeneem het.

POLOKWANE – Nicolette de Kock het uitstekend gevaar in haar matriekeindeksamen en studeer vanjaar medies by die Universiteit van Pretoria.

Die oud-Curro Heuwelkruin leerder het in 2016 gematrikuleer en vertel dat haar gunsteling vak op hoërskool, biologie was.

“Ek het dit baie interessant gevind,” vertel sy.

Sy het uitgeblink in atletiek, hokkie en netbal en het ook deelgeneem aan aksie-netbal, debat, drama en Amath. Sy vertel dat om by alles uit te kom, moes sy prioriseer en baie slaap inboet.

“Om deel te neem aan buitemuurse aktiwiteite en sport is goed aangesien jy belangrike vaardighede soos spanwerk en sportmanskap leer.

“Ek het nie ‘n rolmodel op skool gehad nie. Ek weet wat is reg en wat is verkeerd en my morele waardes en geloof is my rigleiers. Ek het nie nodig om iemand anders se voorbeeld te volg nie.

“My vriende en familie is my ondersteuningstelsel en ek kon altyd stoom afblaas saam met my vriende en saam pret hê. My familie hou my gegrond en herinner my oor wat belangrik is in die lewe. Wanneer ‘n toets moeilik was, het hulle my herinner dat hulle my liefhet, maak nie saak wat nie. As dit nie gewerk het nie, was daar altyd sjokolade.”

Nicolette was ‘n finalis by Mnr. en Mej. Heuwelkruin waar sy gehelp het by ‘n sopkombuis en tyd spandeer het by Jo-Ann Rusoord. Sy het ook vrywillige werk gedoen by die Tough Living with Cancer (TLC) saal by die Pietersburg Provinsiale Hospitaal waar sy met die kinders gespeel het.

“Hier het ek geleer dat ‘n mens nooit iets as vanselfsprekend moet neem nie en altyd dankbaar moet wees vir wat jy het, veral jou gesondheid. Ek het ook geleer dat om iemand jou tyd te gee, is meer waardevol as enige iets wat geld kan koop.”

 

maretha@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button