Marli is slag gereed vir die grootmenslewe

Marli droom om eendag te help om omgewingskwessies op te los.

POLOKWANE – Vol lewenslus en gereed om die toekoms met albei hande aan te gryp het Marli de Lange van Hoërskool Pietersburg (PHS) gretig op haar matriekeindeksamenuitslae gewag.

Toe die groot dag aanbreek was sy in die wolke om te sien dat haar harde werk nie onbeloon gegaan het nie en dat sy al haar vakke bo 90% geslaag het.

Daarmee is sy as een van PHS se top presteerders aangewys. Sy het 90% gekry vir Afrikaans huistaal, 94% vir Engels eerste addisionele taal, 94% vir wiskunde, 94% vir lewensoriëntering, 96% vir rekeningkunde, 93% vir inligtingstegnologie en 94% vir fisiese wetenskappe.

Die afgelope Desember vakansie was propvol ervarings wat Marli vertel sy nie kon misloop nie.

“Ek het eers in Lesotho by die Motul Roof of Africa motorfietsresies gaan help crew vir familie en vriende, wie toe baie goed in die resies gevaar het. Daarna het ek teruggekeer na die stad om my miniatuurperdstoet voor te berei en na die Knysna-omgewing te verskuif. Nadat my perde veilig aangeland het, het ek en my gesin by my oom se vlieër branderryskool (kitesurfing) in Witsand gaan leer hoe om te kitesurf, iets wat ek al lankal droom om te doen. Dit was werklik ‘n belewenis en ek het ongelooflike interessante en inspirerende mense ontmoet wie van Duitsland, Denemarke, Oostenryk en Italië gekom het om opgelei te word as kitesurfinginstrukteurs. Ons was hulle eerste toetsleerders,” glimlag sy.

Nou dat sy haar skoolloopbaan voltooi het droom sy om eendag te help om omgewingskwessies op te los.

“Ek sal onder andere graag wil bydra om die Groot Koraalrif (Great Barrier Reef) in Australië te red. Om dit te kan doen, gaan ek vanjaar reeds begin studeer,” verduidelik sy.

Marli beplan om vanjaar chemiese ingenieurswese by die Universiteit van Stellenbosch te studeer. “Ek kyk egter ook na internasionale universiteite om my graad moontlik daar te gaan voltooi,” las sy by.

As sy haarself kon raad gee toe sy skool begin het sou dit wees dat ‘n mens dikwels genoodsaak word om moeilike keuses te maak. “Jy kan kies tussen die aksie of die gevolg, maar wanneer jy die een gekies het, is die ander reeds vasgestel. Weet dus duidelik waarvoor jy werk en moenie jou doelwit uit die oog verloor nie.”

Haar raad aan leerders wat vanjaar hul hoërskoolloopbaan begin is om te onthou dat hul lewe nie by hoërskool stop nie.

“Maak jou studies jou grootste prioriteit en moenie agter raak nie. As jy sukkel, vra. Jy is in ‘n sisteem wat so ontwerp is dat as jy bereid is om die nodige werk in te sit, jy met die hulp van onderwysers jou volle potensiaal kan bereik. Benut elke geleentheid om jouself te verreik ten volle. En moenie gevang word as jy bunk nie,” skerts sy.

Marli is opgewonde om klaar te wees met skool maar wil graag aan almal wie haar gebring het waar sy is, ‘n boodskap oordra.

“Aan elkeen van die onderwysers waarmee ek al sedert gr. 8 af ‘n pad stap, en elkeen wie later in my lewe ‘n hand kom bysit het, aan elkeen van hulle wie altyd bereid was om na my te luister, getuigskrifte en briewe op te tower of op simpel laatnag vrae te reageer waarvoor ek eintlik reeds die antwoorde moes geken het, aan hulle almal wil ek (eintlik rooiwyn skenk, maar ten minste) baie dankie sê.

“Aan al my vriende, die van julle wie saam met my klaargemaak het asook die wie nou met gr. 12 begin, ek kan nie met woorde beskryf hoeveel julle vir my beteken nie. Ek sal julle vir niks verruil nie. Ek bid vir julle seën toe op julle pad vorentoe,” sê sy.

riana@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button