Bosveld NewsLocal NewsNews

Oud HPP-onderwyser sterf kort na sy aftrede

Een van die dorp se mees geliefde oud-onderwysers is Woensdag in die vroeë oggendure in sy slaap oorlede.

MOKOPANE – James Steele, ‘n oud-wiskunde onderwyser van Hoërskool Piet Potgieter wat in September vanjaar die leisels neergelê het, is tuis oorlede. Hy het sowat ‘n maand terug ‘n groot kolon operasie gehad en het daarna by die huis aangesterk.

Talle leerders het voor sy oë grootgeword en hy het vroeër vertel dat een van die hoogtepunte in sy onderwysloopbaan was toe sy klas in 1996 met 15 wiskunde vakonderskeiding geslaag het. Hy het drie maande terug ‘n Apiesdoringboom as nalatenskap op die skoolterrein geplant voor hy sy klasdeur vir oulaas toegetrek het om sy aftrede te gaan geniet.

Die skool sê op hulle Facebookblad “”n Kalander het geval. Dit was ‘n groot voorreg om James Steele te ken. Hy was waarlik een van God se ligstrale. Hy het oor 37 jaar die lewens van duisende kinders en kollegas aangeraak. Die wêreld is ‘n armer plek sonder James Steele.”

Steele was ‘n bekende op die rolbalbaan en het ook af en toe ‘n potjie tennis geniet. Hy het tien jaar terug sy eerste vrou, Mirinda, aan kanker afgestaan. In 2010 is kolonkanker by hom gediagnoseer, maar hy het die stryd oorwin. Hy is in 2007 met Lida getroud. Hy laat haar, drie kinders en ses kleinkinders agter.

Begrafnisreëlings is teen druktyd nog nie bekend gemaak nie. Hou Bosveld se Facebookblad hiervoor dop.

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button