BlogsOpinion

‘n Trekkery!

Te midde van: Ek trek nie, my ma trek. Na my toe!

Hulle se naas die verlies van ‘n geliefde is ‘n verhuising seker een van die mees traumatiese gebeure in ‘n mens se lewe.

Hulle weet waarvan hulle praat!

Ek moet eers bieg: Trek mag moontlik vir ander mense effe makliker wees as vir my. Dis nou nie dat ek dink alles wat my tref is soveel erger as vir ander nie, nee, glad nie. Dis dat ek ‘n versamelvoel is, ‘n opgaarder van die eerste waters! Ek is mal oor boeke, en briewe en koerante, en mooi prentjies wat kinders dalk vir take mag gebruik, en my eie navorsing oor onderwerpe so wyd soos die Heer se genade. Ek is mal oor mooi knope en blou en ou botteltjies wat uit twee eeue terug se asgate uitkom. Ek hou van plate en tapes en CD’s, en plastiekbakke sonder deksels of deksels sonder bakke. Ek hou van ou goed: foto’s, geskrifte, tasse, meubels, blikke, lappe en lapgoed, klere, fieterjasietjies en wat nog.

O ja, en klippe . . .

Net so tussen jou en my, het ek al ‘n kamer toegemaak omdat daar te veel nonsens in is. Dit help ook nie dat my ou plaashuis net twee ingeboude kaste het nie. Daar is nie eers diep donker bo-kaste om goeters in te prop nie!!

Maar ek dwaal af. Ek trek nie, my ma trek. Na my toe! (Ander storie vir ‘n ander dae!)

Om te kan plek maak vir die kosbaarhede wat my moeder ‘n leeftyd geneem het om met sorg en swaar verdiende geldjies bymekaar te maak, moet ek eers die chaos wat my jare en jare geneem het om te versamel eers uitgesorteer en weggepak word.

Dis ‘n dubbele slag vir my hart. Die memories van my lewe le oor my vloere gesaai. Daar’s soet onthou van ou kerels, klein briefies met blommetjies in die onderste hoek in die netjies skrif van my ouma, daar’s foto’s van my oupa by sy leeu, by sy Jeep, rugby-programme van my boetie se glorie-dae, daar’s oorbelle sonder maatjies wat die opwinding van my jueg herleef, daar’s ‘n strokie van T-been en sous vir R14 in ‘n Kaapse restaurant, daar’s padkaarte na wonderlike plekke wat ek eendag wou sien.

In kort: my huis le vol van my drome, sommige verwesenlik, sommige laf en vergete en sommige kosbaar, soos ‘n kleinood, amper versmoor in die stryd om oorlewing. In hopies op my matte le die getuienis van wat ek was, wat ek graag wou wees en wat ek is.

En nou kort ek eers ‘n glas wyn . . .

“see you on the flipside,” soos die kinders se.

 

 

 

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button