Local NewsNews

Stephan se kuns sy passie

Rustig en alleen voor sy esel is waar Stephan Steenkamp (28) op sy gelukkigste is, hiér leef hy sy droom as kunstenaar uit.

POLOKWANE – “My gunsteling medium om mee te werk is olie of ink. Olie, want dit is veelsydig en ink want dit vloei en is vinnig,” vertel hy.

Stephan is in Modimole gebore en het in ‘n kunstige huis groot geword waar hy aan verskeie vorme van kuns blootgestel is. Dit is in hierdie vroeë jare waar sy liefde vir kuns begin blom het. Hy vertel graag dat hy reeds van kleuterskooldae af verf. Dit het lank met hom gebly. “Ek was altyd die snaakse een op skool en selfs na skool. Die een met winkelpoppe in my woonstel,” skerts hy.

“Ek het nie na skool studeer nie en het dadelik begin werk. Ek wou graag binnehuisversiering doen, maar het toe in gasvryheid ingegaan en later het ek by ‘n bloemis gewerk.”

Stephan het in 2008 vir die eerste keer sy werk op formele platform in Polokwane uitgestal en in 2010 is hy deur Rococo Kunsgallery in Langebaan genooi om in hul Scenes From Our Favourite Songs uitstalling sy werk voor te sit.

Westonaria Munisipaliteit het van Stephan se kunswerk gebruik in ‘n advertensieveldtog in 2011 en in 2012 het hy ‘n solo-uitstalling met ‘n 1920’s-tema in Pretoria voor gesit en later by die So So Divine and Décor-gallery in Polokwane.

“Van my werk is gekies om deel te vorm van die Nasionale Biblioteekvieringe in 2012 en daar is 18 van my werke uitgestal. Ek het ook twee stukke aan die groter Westonaria-area se biblioteek en inligtingsdienste geskenk. In 2013 het ek kunswerk en gedigte bymekaar gesit vir ‘n plakkaat vir die One Billion Rising Against Women and Child Abuse veldtog en die nasionale Valentynsdag seremonie.”

Daarna het Stephan as vryskut grafiese ontwerper en fotograaf begin werk. Hy kombineer fotografie met kuns om sy gemengde media en digitale kunswerke te vorm. Stephan vertel hy skilder landskapstonele om Polokwane. Soms werk hy van fotos af, anders gebruik hy sy verbeelding.

Pinterest en koffie staan as inspirasie vir dié moderne kunstenaar, partymaal hoef hy net na die bont kleure op sy glaspalet te kyk. Stephan sê daar is mense wat dink daar gaan nie baie moeite in kunswerke in nie en dit pla hom baie.

Hy wil hê mense moet weet dit is ‘n proses wat tyd en aandag verg.

“My gunsteling kleur is Maples Yellow. Ek voel geel lig die ander kleure uit. My raad aan ander kunstenaars is om nooit op te hou met skilder of teken nie en elke dag te oefen.”

Stephan is nie een vir stilsit nie. Hy hou daarvan om te reis en kan nie lank op een plek bly nie. “Ek verhuis juis einde van die maand na Johannesburg waar ek ‘n half-dag pos gekry het. Dit pas my want nou kan ek steeds in die middae skilder.”

maretha@nmgroup.co.za

 

Related Articles

Back to top button