Local NewsNews

Steele lê tuig neer by Westenburg Skool

Ouers van leerders by Westenburg Sekondêre Skool sê hulle vrees vir hulle kinders se toekoms na hulle gehoor het dat Vrydag die laaste dag by die skool vir die waarnemende hoof, Jimmy Steele, was.

POLOKWANE – Steele was vir 18 maande die waarnemende hoof by dié skool.

Die ouers sê hulle is baie hartseer om Steele te verloor want hy het ‘n groot verskil gemaak by die skool.

“Daar was geen wet en orde by die skool nie, maar Steele het dissipline terug-gebring.

Hy het die stukkende tafels en stoele waarop ons kinders moes sit en werk in die klas reggemaak en danksy hom het die skool ook ‘n eie skoolvlag gekry. Hy het ‘n tradisie begin deur die skool se eerste gr. 8-groentjiekonsert te hou.

Vir jare was daar nie atletiek by die skool nie, todat Steele hier begin het.

Steele het soveel gedoen om ons skool te verbeter, ek kan nie insien hoekom die departement hom nie by die skool kan laat aanbly nie,” het van die ouers gesê.

Ander ouers sê hulle blameer Steele nie vir sy besluit om te bedank nie, want hy het geen ondersteuning van die Departement van Onderwys of die skool se beheerliggaam ontvang nie.

“Steele het saam met die leerders en ouers baklei vir meer onderwysers by die skool, veral Afrikaans onderwysers, maar in plaas daarvan dat die skool se beheerliggaam hom ondersteun, het hulle hom gekruisig en vir die wolwe gegooi. Steele was ‘n aanwins vir die skool enn ou gaan ons kinders weer aan die kortste ent trek wanneer die skole heropen in April,” het ‘n ouer gesê.

Die ouers wil weet wat die departement en die skool beheerliggaam se plan is in verband met die skool se bestuur sonder Steele.

“‘n Onderwyser kan nie hoof ook wees nie. Dit gaan nie werk nie, want wie gaan sorg dat dissipline toegepas word wanneer die persoon in die klas is? Wie gaan ouers aanspreek wanneer hulle met klagtes na die kantoor toe kom, of die algemene bestuur van die skool hanteer? Die persoon wat Steele vervang moet in sy voorbeeld volhard,” het hull gevra.

Steele wou nie kommentaar lewer op die kwessie nie.

Hy het wel op sosiale media gegroet.

“Tot siens Westenburg.

“Ek is maar net gedurende die afgelope 18 maande telkens wreed ontnugter, teleurgestel en stadig maar seker ontmoedig deur die onbevoegdhede van amptenare en die gebrek aan ondersteuning aan ‘n skool sonder voldoende menslike en finansiële hulpbronne.

“Ek sal die verhouding met ouers, onderwysers, en veral met die leerders vir altyd koester.”

Rowland Stander, adjunk-voorsitter van die beheerliggaam, sê Steele se bedanking kom as ‘n skok.

Hulle het verneem Steele sou sy bedanking op kringvlak indien, het hy gesê.

Die Departement van Onderwys het teen druktyd geen kommentaar gelewer oor die saak nie.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button