Editor's choiceMunicipalNews

Mookgophong sonder water – oues sukkel

Watervoorsiening aan inwoners is al vir jare 'n probleem en in November verlede jaar het dit in 'n krisis ontaard.

MOOKGOPHONG – Terwyl die boere bid vir reën van bo is die inwoners van Mookgophong rasend oor die gebrek aan water in hulle krane.

Watervoorsiening aan inwoners is al vir jare ‘n probleem en in November verlede jaar het dit in ‘n krisis ontaard.

Alta Smook, ‘n inwoner van die woonbuurt, Gholfpark op die dorp, meen só kan dit nie aangaan nie. “Ek is moedeloos en gaan my huis verkoop, maar wie sal dit wil hê met die groot waterprobleme wat ons ondervind?”

Smook is een van die talle inwoners van die woonbuurt wat al meer as vyf weke nie water het nie. Sy sê hoewel die munisipaliteit watertenks by die ingang van Gholfpark opgerig het, kan nie al die bejaardes daarheen loop om hulle kanne vol te maak nie. “Nie almal hier is so gelukkig soos ek om ‘n tenk by my huis te hê wat gevul kan word nie.”

Smook sê soms is daar in die aand ‘n klein bietjie maar dit bly nie lank so nie. Sy sien hoe van die mense buite hulself raak oor die krisis wat hulle daagliks in die gesig moet staar sonder die vooruitsig van ‘n oplossing.

Lorette Lourens sê haar buurvrou is 90-jaar oud en kan nie loop om kanne met water te gaan vul nie. “Ons het al oral gekla en daar word niks gedoen nie.

“Die dorp het nie waterbeperkings nie, hier is net glad nie water nie. Wanneer daar wel ‘n bietjie water is kry dit nie kans om in die reservoir op te bou nie want die inwoners in fase 1 en 4 aan die begin of onderkant van die woonbuurt spuit dan hulle tuine nat. Die water kom dus nie by diegene wat hoër woon uit nie,” sê Lourens.

AfriForum se Mookgophong takvoorsitter, Philip van Staden, sê in Desember verlede jaar was die dorp vir 200 ure sonder water.

Van Staden sê die dorp beskik oor 11 boorgate maar sedert November verlede jaar werk net sewe.

“Dit beteken dat die dorp net 65% van die water wat voorsien moet word kry en 35% nie gelewer word nie. Die gemiddelde aantal liter water wat aan die dorp verskaf word is 4,8 liters per minuut en dit moet 10 liters per minuut wees. Dit is Gholfpark en die hoogliggende gebiede wat die ergste geaffekteer word.”

Die lyn wat krag verskaf aan die pompe by die Frikkie Geyser dam werk nie behoorlik en verlede jaar was die lyn vir meer as 290 ure af, en 388 keer aan en af. “Die sondebok is die munisipaliteit se elektrieseafdeling wat nie krag hier voorsien nie. Afriforum het nou al gedreig om self mense te stuur om die pompe te kom regmaak, maar volgens die munisipaliteit is daar tans ingenieurs wat aan die probleem aandag gee. Daar gaan nog vandeesweek ‘n vergadering wees met die Departement van Waterwese om oor die saak te besin,” sê Van Staden.

Van Staden meen dit is egter belangrik dat almal om ‘n tafel gaan sit en daar met Afriforum se teenwoordigers en ook die inwoners gesels word.

Desiree van der Walt, DA-LP, sê Mookgophong se water en elektriesiteit probleme het al agt jaar gelede begin en daar is toe verskeie beloftes gemaak om die probleme op te los wat nie nagekom is nie.

Waterpype het intussen gebars en verskeie boorgate sorg ook vir water in die reservoir maar al die gate werk nie.

Maandag is ‘n groot lekplek op ‘n pyplyn gekry wat water na die Frikkie Geyserdam lei. Daar word tans daaraan gewerk.

Van der Walt wys daarop dat sy die burgemeester en munisipale bestuurder van Mookgophong gaan aankla vir die versuiming van hulle pligte.

“‘n Mens kan glad nie deurkom na die burgemeester of munisipale bestuurder. Dis ‘n onmoontlike taak om hulle op te spoor.”

Van der Walt sê sy gaan ook ‘n klagte indien by die Menseregtekommissie want water is ‘n basies reg.

Sy beplan om binnekort te vergader met die ministers van waterwese, elektrisiteit en plaaslike regering oor die kwessie.

Leon Basson, die DA skaduminister van waterwese en sanitasie het verduidelik dat die DA die minister van waterwese, Nomvula Mokonyane, geruime tyd terug genader het oor die probleem.

Die DA het ‘n skriftelike skrywe van haar terug gekry en daar sal nou vasgestel word of die probleme aangespreek word en beloftes nagekom word.

Basson sê drinkwater is eerste prioriteit en hy is bewus dat van die inwoners wat wel water kry hulle tuine natspuit en die resevoirs dus nie vol kom nie. Die hitte het ook ‘n invloed op die watervlak. Hy gaan die dorp vandeesmaand weer besoek om homself te vergewis van die situasie.

Bosveld kon nie die Mookgophong munisipaliteit se woordvoerder vir kommentaar opspoor nie.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button