Local NewsNews

“Ek wil ‘n inspirasie wees, maar op die oomblik is dit moeilik”

Dié jong kankerlyer vertel die dokter het vandeesweek vir haar gesê medies is daar nie meer hoop nie, net gebed kan nou help.

POLOKWANE – Met trane in haar oë sit Bernadine du Preez voor my in haar ouma se tuin in die stad.

Sy sukkel om te praat want haar hele gesig is deurdrenk van hartseer.

Dié jong kankerlyer vertel die dokter het vandeesweek vir haar gesê medies is daar nie meer hoop nie, net gebed kan nou help.

Polokwane het Bernadine verlede jaar leer ken toe haar familie vir haar ‘n fees gehou het om geld in te samel nadat sy in Desember 2013 met servikale kanker gediagnoseer is.

“Ek het ‘n histerektomie ondergaan en twee maande daarna met chemoterapie en bestraling begin. Ek en Gert sou trou, maar ons het al die geld wat ons gespaar het vir my operasie en behandeling gebruik.”

Lesers het Bernadine verder leer ken toe Review vir haar en Gert hulle droomtroue gereël het. Na die operasie en behandeling was die kanker weg en kon sy en Gert as pasgetroudes hul lewens voluit begin lewe.

In September vanjaar – minder as ‘n maand na hul eerste huweliksherdenking – het Bernadine egter ‘n klein knoppie, skaars ‘n millimeter groot, in haar nek gevoel. Sy is onmiddellik dokter toe waarna sy vir toetse gestuur is.

“Op Dinsdag, 20 Oktober het die dokter bevestig dis die servikale kanker wat nou versprei het. Die kanker is nou in my buikarea, lewer, longe en nek. Sodra ons van die mediese fonds gehoor het of hulle vir die chemoterapie gaan betaal, sal ek daarmee begin – ek hoop dit sal al volgende week kan wees.”

Bernadine vertel die plekke waar sy die eerste keer vir die kanker behandel is, is steeds skoon.

Dit het egter nou orals anders in haar liggaam posgevat. Sy gaan vir ses maande lank chemoterapie kry en daarna elke drie maande vir die res van haar lewe.

“Ek verwerk die nuus nog. Ek het gelukkig baie ondersteuning, maar wanneer ek alleen is, is dit moeilik.

“Vir Gert is dit moeilik. Hy vra gereeld hoe dit met ons kon gebeur het.

“Ons het die lekkerste huweliksherdenking gehad.”

Sy het self glad nie sulke slegte nuus verwag nie, veral omdat sy 100% gesond voel en kan dus nog nie glo die kanker is weer terug in haar lewe nie.

Hoewel haar familie haar ondersteun, is dit ook moeilik vir hulle.

Haar werkgewer is ook baie ondersteunend, voeg Bernadine by.

“Ek wil so graag ‘n inspirasie wees vir ander, maar op die oomblik is dit moeilik.”

Op ‘n Facebook-bladsy wat vir Bernadine gestig is, bekend as die Blom Gebedsgroep, besing ‘n vriendin haar.

Shalta Engelbregt skryf daar is drie dinge wat waarlik vir haar uitstaan as sy aan Bernadine dink:

Dit is dat Bernadine weet hoe om te vergewe en te vergeet. Sy kies ook liefde bo alles.

“Niks kan haar meer gelukkig maak as liefde nie.

“Sy het my meer van verantwoordelikheid geleer. Maak nie saak hoe sleg jou dade is nie. Neem verantwoordelikheid vir jou aksies. Ons bly mens,” skryf Shalta.

‘n Trustfonds is gestig om Bernadine en Gert te help.

Die besonderhede is as volg:

Hugo Family Care Fund Trust

Tjekrekeningnommer: 332549615

Bank: Standard Bank

Tak: Mall of the North

 

Lees meer:

Review bruidspaar vier steeds die lewe

Trouklokkies lui vir Gert en Bernadine

Bolivia Lodge borg Bernadine se dag

Musiek is mos ‘n liefdestaal

Alusha Art verseker ‘n bloesende bruid

‘n Trourok waarvan sy ‘net kon droom’

Goseame sorg vir Bernadine se blomme

Bernadine kry ‘n fotograaf om ‘n sprokiesdag op film te verewig

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button