Local sportSport

Puik vertonings by Gauteng-Noord se Meestersatletiek kampioenskap

Plaaslike meesters-atlete – 30 jaar en ouer – het verlede week hul beurt tydens die huidige vol atletiekseisoen gekry om hul vermoëns in die Pildich stadion te wys toe die Gauteng-Noord Meestersatetiek kampioenskap oor twee dae daar aangebied is.

Die feit dat Suid-Afrikaanse atletiek tans ’n bloeitydperk beleef, word onteenseglik bewys deur die prestasies van atlete op die baan.

Terwyl ASA se senior kampioenskap eers aan die einde van April in Potchefstroom plaasvind, het die land se juniors en skoliere die afgelope twee weke by verskeie kampioenskappe bewys dat die ontwikkeling van talent tans die atletiektoneel in die land uit sy nate laat bars met wêreldklas atlete wat in byna elke moontlike item in baan- en veldatletiek na vore tree.

Verlede week het Gauteng-Noord se meestersatlete by hul jaarlikse kampioenskap in die Pilditch stadion ook hul hande opgesteek en gewys dat daar nie van hulle vergeet moet word nie.

Die kampioenskap, wat oor twee dae aangebied is, het die volle spektrum van baan- en veldatletiek – insluitende vyfkamp en stap-items – ingesluit.

Hoewel die ouer garde se prestasies nie noodwendig dieselfde openbare aandag geniet wat die seniors en jonger atlete tans op die voorgrond hou nie, werk die meeste van hulle ewe hard om hul doelwitte te bereik.

Hoewel dit as die Gauteng-Noord Meestersatletiek kampioenskap bekendstaan, kon deelnemers vanoor die hele Gauteng, asook enkele inskrywings uit provinsies soos Limpopo, Mpumalanga, Noordwes en selfs die Vrystaat in aksie gesien word.

Daar was selfs ’n deelnemer uit Namibië, wat aan die byeenkoms ’n kontinentale status verleen het.

Die ouderdomme van deelnemers het gewissel tussen die “jonges” van net oor 30 tot die oupa- en oumagrootjies aan die ‘ander kant’ van 80.

So, hoe vinnig kan dié meesters atlete nog ’n 100m wedloop aflê?

Een van die groot verrassings tydens die byeenkoms was juis die prestasie van Anton Vlok, ’n naelloper in die ouderdomsgroep 40-44, wat vir die vinnigste 100m tyd tydens die kampioenskap gesorg het. Hy het sy kategorie gewen in ’n blitsige 11,12 sekondes, selfs vinniger as die manne in hul 30’s.

Hierdie tyd is goed genoeg om aan Vlok die goue medalje te kon verseker by verlede jaar se Meestersatletiek wêreldkampioenskap, wat in Swede aangebied is. Thomas Reijnders van Nederland was die wenner in Swede met sy tyd van 11,46s.

Selfs Shawn Lubbe se tyd van 11,60 sekondes, waarmee hy die silwer medalje in dié kategorie gewen het, sou ook goed genoeg gewees het vir ’n plek op die podium in Swede verlede jaar.

Terloops, die oudste naelloper by die kampioensap was Monty Hacker, wat die 100m in ’n skaflike 20,89s kafgedraf het.  Onder die dames was die 84-jarige Hester Venter die oudste naelloper en sy het die 100m in 30,74s klaargemaak.

Hoewel baie van die atlete openlik erken dat hulle aan baan- en veldatletiek deelneem om gesond en fiks te bly, bewys die prestasies op die baan dat die meerderheid hul sport ernstig benader en steeds streef na provinsiale- en nasionale kleure.

Na afloop van hierdie kampioenskap kan plaaslike meestersatlete hulself nou begin voorberei vir die nasionale kampioenskap, wat volgende maand (1, 2 en 3 Mei) in Oudtshoorn in die Wes-Kaap aangebied sal word.

Die bestes onder hierdie atlete sal natuurlik ook droom van deelname aan die volgende wêreldkampioenskap, wat in Augustus volgende jaar in Suid-Korea sal plaasvind. Verskeie Suid-Afrikaners het verlede jaar by die wêreldkampioenskap in Swede medaljes gewen.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button