Garsie Bere vier sukses van 2024 tydens spog-dinee

Tydens Hoërskool Garsfontein se jaarlikse rugby-kuieraand is die sukses van die Garsie Bere se Noordvaal Cup veldtog gevier, terwyl ’n kenner terselfdertyd die realiteit oor die toekoms van beroepsrugby aan die gaste uitgespel het.

Die 2024 rugbyseisoen sal in die annale van Hoërskool Garsfontein bekendstaan as die jaar waarin die skool se eerste rugbyspan, die Garsie Bere, se karakter spreekwoordelik in klip gekap is.

Dis seker maklik om toekomstige spanne te motiveer met groot name en die prestasies van kampioenspanne uit die verlede wat alles voor hulle weggevee het. Maar wanneer daar in die toekoms na die Garsie Bere van 2024 verwys word, sal dit dié span se Bittereinder-gees en vasbyt mentaliteit wees wat as inspirasie dien.

Hierdie aspek is weer opgehaal tydens verlede week se jaarlikse rugby-kuieraand, wat deur ouers, borge en ander ondersteuners van die skool se rugbyprogram bygewoon is.

Met die suksesvolle verdediging van hul titel as Noordvaal Cup kampioen in die top Beker-afdeling, is die Garsie Bere finaal gevestig as ’n rugbyskool wat in die geselskap van die land se heel bestes tuishoort. Die hoof van Garsfontein, Leon Bantjes, het dié feit soos volg beaam:

“Toe ek sowat 12 jaar gelde as hoof van die skool oorgeneem het, moes ons op gunsies van die groottes wag om speelkans in ander dele van die land te kry as ons tydens vakansies wou gaan toer. Deesdae is ons só in aanvraag met uitnodigings na al die top toernooie, dat ons aanbiedings van die hand moet begin wys,” het Bantjes tydens sy spreekbeurt vertel.

Die Hoof Uitvoerende Beampte van die Cheetahs Rugby-unie en voormalige slot van die Vrystaat, Ross van Reenen, was die gasspreker tydens die dinee. Hy is ook die skrywer van die topverkoper boek, From Locker Room to Boardroom: Converting rugby talent into business success, waarin hy suksesverhale ondersoek van rugbyspelers wat leiers in die besigheidwêreld geword het.

Van Reenen het skokkende statistiek aangehaal oor hoe ver Suid-Afrikaanse rugbyspelers agter geraak het by lande soos Nieu-Seeland en Australië wat betref hul akademiese opleiding en voorbereiding vir die lewe na rugby. Hy het boonop beklemtoon dat professionele rugby reg oor die wêreld in die moeilikheid is. Die uitsondering is Frankryk, waar die tendens is om klubs met die hulp van private-ekwiteitvennote te bedryf.

Volgens Van Reenen sal die toekoms van professionele rugby deur hierdie model bepaal word, terwyl daar intussen ten alle koste daarna gestreef moet word om spelers akademies en prakties vir die lewe na rugby voor te berei.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version