Naka Bulle en Northam Rhinos sit hul eindstryd-vete voort in Gold Cup

Dis wéér Naka Bulle teen Northam se Rhinos in ’n groot eindstryd, nadat dié twee Carltonbeker klubs die afgelope naweek albei vir die klimaks van die nasionale Gold Cup klubrugby-toernooi gekwalifiseer het.

Naka Bulle kry eerskomende Saterdag op hul tuisveld die geleentheid om hul titel as kampioen in die nasionale Gold Cup klubrugby toernooi te verdedig, wanneer hulle die Northam Rhinos in die eindstrd van vanjaar se toernooi pak.

Dít volg nadat Ruan (Bielie) Grundelingh en sy spanmaats die WP-klub Helderberg, die afgelope naweek met 59-30 pakslae gegee het in die een halfeindstryd van die toernooi.

Die tuisspan het weer die krane oopgedraai en nege keer agter die doellyn gaan kuier. Dit was egter hul monster pak voorspelers wat die fondament gelê het vir die oorwinning, deur die Kapenaars moedeloos te skrum. Agter die oorheersende pak kon Naka Bulle se gevaarlike agterlyn die nodige ruimte skep om die drieë in te ryg.

Hoewel die tuisspan oudergewoonte soms hoë-risiko rugby gespeel het, was die uitslag nooit werklik in die weegskaal nie. Terwyl die verdedigende kampioene teen rustyd reeds met 24-10 voor was, het die Kapenaars daarna hard probeer om terug te bons. Met ’n verdoelde drie en ’n strafdoel kort na mekaar het hulle die gaping laat krimp, maar daarna het Naka Bulle weer met reëlmaat die doellyn oorgesteek om die punteverskil te laat groei.

Teen die einde was die besoekers uit op hul voete. Hoewel hulle nooit gaan lê het nie, moes hulle met té min kwaliteit balbesit probeer om die telbord te jaag. Dít was te veel gevra en hoewel hulle – hoofsaaklik weens ’n paar puik individuele pogings van gevaarlike agterspelers – nog twee keer kon gaan druk, het die tuisspan ook nie opgehou met hul aanvallende benadering nie. Daarvan getuig die vier drieë wat in die laaste kwart van die wedstryd met opwindende spel gedruk is.

Hierdie uitslag beteken dat Naka Bulle nou vir die vierde keer in vier jaar in ’n belangrike eindstryd teen die Northam Rhinos te staan sal kom. Die manne van die Moot het die Bosvelders reeds drie keer (2021; 2023 en 2024) in Carltonbeker eindstryde geklop en die twee klubrugby reuse sal mekaar nou vir die eerste keer in die nasionale toernooi se eindstryd pak.

Saterdag se uitslag in die Moot was ook ’n persoonlike triomf vir die tuisspan se hoofafrigter, Marinus van der Watt. Hy het wéér die hoogaangeskrewe voormalige provinsiale en internasionale afrigter, Phil Pretorius, ore aangesit. Pretorius, wat vanjaar die leisels van Helderberg in die Strand/Somerset-Wes omgewing oorgeneem het, het in 2022 en 2023 die Northam Rhinos afgerig toe Naka Bulle hulle ook twee keer in uitspeelwedstryde geklop het.

Verlede jaar het Naka Bulle met ’n ander WP-klub, Valsbaai, afgereken om vir die eindstryd te kwalifiseer.

– In Durban het die Northam Rhinos wraak geneem teen College Rovers van die Sharks in Durban, wat hulle verlede seisoen in die halfeindrondte van hierdie toernooi uitgeskakel het.

Die Rhinos het Saterdag in Durban met 38-26 gewen om vir die eindstryd eerkomende Saterdag teen Naka Bulle te kwalifiseer.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version