Local sportSport

Katvisse vat die aas by twaalfde Ramcat Fishing hengelfees

Die jaarlikse Ramcat Fishing hengelfees vir gestremde hengelaars is die afgelope naweek weer met groot swier by die Irene Country Lodge aangebied.

Sedert Ramcat Fishing in 2013 hul gewilde hengelfeeste vir gestremde hengelaars begin het, het dié feestelike dae reeds vreugde vir honderde manne en dames met fisiese gestremdheid gebring.

Om ’n dag lank langs die viswater by ’n spoggerige oord soos die Irene Country Lodge te ontspan, lyne nat te maak en boonop as eregaste onthaal te word, is iets wat hierdie gemeneemskap nie gereeld ervaar nie.

Ramcat Fishing maak dit egter moontlik langs ’n dam wat goed ingerig is vir die gestremde hengelaars, terwyl die reëls van die fees só geformuleer is dat die gestremde hengelaars hulp en bystand kan ontvang, terwyl hulle steeds die plesier vir dié sport kan beleef.

Die afgelope naweek het die meesterbrein agter die fees, Gerard Smal, weer saam met sy helpers uit hul pad gegaan om die gestremde hengelaars op die hande te dra. Smal is bekend vir sy welsynswerk onder gestremdes en hierdie projek is die grootste van dié waarby hy betrokke is. Hy is een van daardie aktiviste wat bereid is om soms selfs ongewild te wees in sy stryd om toe te sien dat gestremdes se regte gerespekteer word.

Sondagoggend vroeg het die eerste hengelaars en hul helpers begin aanmeld en ná registrasie en ontbyt is die lyne een na die ander ingegooi.

Deelnemers was dit later eens dat die vis vanjaar nie so gewillig was om te byt soos vorige jare nie, maar ’n groot hoeveelheid van die getroue ou katvisse (babers), wat volop in die Irene Country Lodge se dam is, het darem verskeie hengelaars se aas gevat. Die grootste baber wat uitgetrek is tot kort voor middagete het 2,2kg geweeg.

Daar was ook vanjaar ’n verrassing, toe die eerste karp in drie jaar uitgetrek is. Dié vis, wat op ’n stewige 800g ingeweeg het, is gevang deur Johan Cilliers en sy jong helper, Daniël Koen.

Ondersteuners en familielede van die hengelaars, asook verteenwoordigers van die borge van die dag, kon oudergewoonte weer saamkuier op die groot grasperk langs die viswater, met versnapperings en ’n kontantkroeg om te sorg vir almal se behoeftes.

Hoewel die meeste van die deelnemers vanjaar uit Pretoria en omgewing afkonstig was, het daar ook hengelaars uit Noordwes gereis om in die verrigtinge te deel.

Vrywilligers van die Suid-Afrikaanse Legioen ’n organisasie vir militêre veterane, was weer op hul pos om met die administrasie en weeg van die vis te help. Dié organisasie se verbintenis met Ramcat Fish kom reeds van die heel begin af en onder leiding van André La Grange en Debbie de Billiot lewer hulle ’n groot bydrae tot die hengelfees se sukses.

Hoewel die Ramcat Fishing hengelfees nie ’n amptelike kompetisie is nie, het al die ingeskrewe deelnemers oudergewoonte in samewerking met die borge ’n prys ontvang kort nadat die dag met midddagete onder die afdakke in die lodge se parkeerterrein afgesluit is.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button