Blou Bulle se legendariese Saartjie Olivier oorlede

Die legendariese en geliefde rugby-administrateur, Saartjie Olivier, wat amptelik vir 50 jaar in diens van die Blou Bulle op Loftus Versfeld was, is Dinsdagaand oorlede na ’n ernstige beroerte. Lees in hierdie huldeblyk meer oor dié merkwaardige vrou se reis met rugby.

Een van die heel groot geeste van die Blou Bulle, wat  vir langer as 50 jaar deel was van die hart en siel van die administrasie by Loftus Versfeld, is Dinsdagaand skielik na ’n beroerte oorlede.

Saartjie Olivier, gewilde en geliefde werknememer van die Blou Bulle sedert 1972, was 79 jaar oud.

Sy is onlangs met kanker gediagnoseer, maar het volgens haar seun, die Bloubul legende en oud Springbok vleuel, Jacques, goed op behandeling gereageer en daar was hoop dat sy besig was om gesond te word.

“Sy het ’n week gelede nog gewerk”, het Jacques aan Rekord gesê.

Saartjie Olivier by die tydelike Bloubul museum-uitstalling in die Fritz Eloffsaal by Loftus Versfeld. Sy was deel van die beplanning om dié uitstalling later deel te maak van ’n volwaardige museum in die Frik du Preez noordpaviljoen van Loftus, waar die geskiedenis van die magtige Blou Bulle meer volledig uitgestal sal word.
Foto: Koos Venter

Dis bekend dat Tannie Saartjie, soos sy alom bekend was onder oud spelers, rugby-administrateurs en Bloubul ondersteuners, selfs na haar aftrede nog betrokke was by stadion-toere by Loftus, sowel as by die bestuur se beplande Bloubul-museum, wat in die Frik du Preez-paviljoen aan die noordekant van Loftus Versfeld beplan word.

Saartjie het Dinsdagaand egter ’n beroerte gehad en volgens Jacques het dinge daarna vinnig slegter gegaan. Sy is hospitaal toe geneem, maar kort daarna het “alles eenvoudig ingegee”, aldus Jacques.

Dié geliefde legende se eggenoot, Theuns, wat op sy dag vir die destydse Suidwes-Afrika (Namibië) uitgedraf het en ook op Carltonbeker vlak in Pretoria afgerig het, het haar twee jaar gelede reeds ontval. Wyle oom Theuns se suster, Heila, was met die Springbok legende, Jan Ellis, getroud.

Tannie Saartjie se lewenslange reis met Bloubul rugby het in 1972 begin, toe sy na die geboorte van haar en Oom Theuns se twee seuns, Jacques (1968) en Morné (1972), as tydelike administratiewe hulp vir die destydse eerste voltydse sekretaris van die Blou Bulle Rugby-unie, Robert Denton, begin werk het. Daarna is sy in 1974 in ’n permanente pos aangestel en sy was tot in 2022 in diens van die Blou Bulle.

‘n Trotse Saartjie Olivier by haar Springbok-seun, Jacques, voor sy eerste wedstryd vir die Blou Bulle in 1992.
Foto: Verskaf

Só het die legende van Saartjie Olivier en Loftus Versfeld begin. Sedertdien het sy álles gesien, gehoor en beleef wat in die wêreld van rugby moontlik is. Behalwe vir die feit dat haar man eers ’n puik klub-speler by Adelaar en daarna ’n uitstaande afrigter by Tuks was, kon sy later as ma met trots beleef hoe haar twee seuns van kaalvoet Loftus-baljoggies vorder tot dit wat hul later bereik het in hul eie rugbyloopbane.

Sy was net so trots op kleinseun Jacques Jr., wat ook in die Carltonbeker liga vir Tuks en Harlequins op senter uitgedraf het.

Intussen het sy in 50 jaar honderde jong sterre gesien kom en gaan, terwyl Loftus Versfeld as moderne stadion en professionele kompleks sedert 1977 stuk-vir-stuk kontant gebou is onder die bestuur van legendes soos Denton, Mac van Vuuren, Stefan Pretorius en Barend van Graan.

Sy het oor die jare skouer geskuur en ’n vertroueling geword vir supersterre soos Frik du Preez, Thys Lourens, Naas Botha, Burger Geldenhuys, Johan Heunis, Joost van der Westhuizen en honderde ander. Daarbenewens kon sy die sukses van afrigters soos Brig. Buurman van Zyl, dr. John Williams, Heyneke Meyer en Frans Ludeke eerstehands beleef.

Die Blou Bulle het die Curriebeker 16 keer gewen en 3 keer gedeel in die 50 jaar wat Saartjie Olivier amptelik in diens van die unie was.
Foto: Verskaf

Ook die administrasie van rugby het in haar leeftyd gevorder van die dae toe elke toeskouer-kaartjie met die hand getel en gesorteer is, tot die hedendaagse tegnologiese era, waar dinge baie makliker gedoen word.

Loftus se rondloper katte, wat ook ’n spesiale plekkie in dié merkwaardige vrou se hart gehad het en wat staatgemaak het op die kos wat sy so gereeld vir hulle aangedra het, is na dese ook wees-katte.

Sy word oorleef deur haar twee seuns, Jacques en Morné, skoondogters Mildre en Suzanne, asook vier kleinkinders.

Geen begrafnisreëlings is nog bekend nie, maar sal op Rekord se sosiale media deurgegee word sodra dit gefinaliseer is.

 

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version