Garsfontein wen hul vierde Noordvaal Cup titel

Hoërskool Garsfontein se eerste rugbyspan is Saterdag middag in Pretoria vir die vierde keer as Noordvaal Cup kampioen gekroon ná ’n titansiese stryd met hul buurskool, Waterkloof. (Berig aangepas met meer foto’s en videos)

Dit was oorlog, maar terselfdertyd ’n skitterende vertoonvenster van skolerugby in Pretoria toe die buurskole Hoërskool Waterkloof en Hoërskool Garsfontein mekaar Saterdag op eersgenoemde se veld gepak het om te bepaal waar staan die oudste en mees prestigeryke trofee in skolerugby Noord van die Vaalrivier vir die volgende jaar.

Uit ’n neutrale oogpunt  was dit jammer dat daar ’n wenner moes wees, want albei hierdie spanne het vanjaar ’n spesiale reis gehad om met die vreugde van sukses af te sluit. Toe die eindfluitjie egter blaas was dit Garsfontein wat met 36-30 gewen het om as 2024 kampioen van die Noordvaal Cup (Beker-afdeling) gekroon te word.

Daar was nie plek vir ’n muis rondom die Klofies se A-veld nie. Sowat 7500 ondersteuners van dié twee skole het rondom dié rugbyveld saamgepak om die grootste skolerugby gebeurtenis van die seisoen in Gauteng te aanskou.

Toe die aksie en spanning verby was, kon die Garsie Bere tong uitsteek vir al die doemprofete wat hulle aan die begin van die seisoen afgeskryf het. Soos Naas Botha jare gelede oor die Curriebeker gepredik het, word die Noordvaal Cup óók nie in Meimaand gewen nie. Dít het die Garsies met hierdie uitslag onderstreep.

Ongelukkig vir Waterkloof was dit wéér ’n wedstryd van twee totaal verskillende helftes vir hulle. Die Klofies was vinnig uit die blokke en het die grootste deel van die eerste helfte byna alle aspekte van die spel – behalwe die vaste srums – oorheers.

Teen rustyd was die telling 20-14 in die tuisspan se guns, maar dit weerspieël nie heeltemal die wyse waarop Waterkloof daardie eerste 35 minute op die aanval oorheers het nie.

Tog kon Waterkloof die vele geleenthede wat hulle geskep het, nie altyd in punte omskep nie. Daarby het die tuisspan byna geen antwoord gehad op die Garsies se teenaanvalle as hulle na willekeur besit omgekeer het nie.

In die tweede helfte het die gety opmerklik gedraai, met die besoekers wat van die afskop af verwoed aangeval het.

Terwyl die Garsie Bere balbesit in dié helfte oorheers het, het hulle wéér ’n paar keer gaan druk van omkeer besit. In dié gevalle is die bal vinnig na die punte geskuif, waar die besoekers nét te veel spoed en vaardighede gehad het. Veral linkervleul Junaide Stuart, wat twee skitter drieë gedruk het, het die Klofies se verdediging telkens na lug laat gryp.

Lig egter die hoede vir die dapper poging van Waterkloof. Hulle het eenvoudig geweier om te gaan lê. Toe hulle tien minute voor die einde met 20-31 agter was, het almal gedink dis gedane sake. Die Klofies het egter verwoed teruggeveg en ná ’n strafdrie – nadat Garsfontein ’n dryfmaal beweging laat val het by die doellyn – was hulle terug in die wedloop.

Selfs nadat Garsfontein wéér gaan druk het met vier minute oor, het Klofies kop gehou, ’n strafdoel behaal en hulself weer ’n kans gegee om te wen as hulle ’n verdoelde drie kon behaal. Dít het so byna gebeur, maar toe senter Happy Makate struikel nadat hy halfpad deur ’n gaping is, was dit neusie verby.

As daar egter ooit waardige finaliste was, dan is dit hierdie span van Waterkloof, wat met ’n klein bietjie geluk beslis self die titel kon wen.

Om die Garsies se beker verder te laat oorloop, is hulle boonop ook as algehele wenner van die Beker-afdeling in die Noordvaal reeks aangewys. Hierdie wenner word bepaal met al vyf die skool se deelnemende spanne (o.14; o.15; o.16, tweedes en eerstespan) se prestasie in aanmerking.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version