Garsfontein bêre beste vir laaste, verdedig hul Noordvaal Cup titel suksesvol

Hoërskool Garsfontein se eerste rugbyspan is Saterdagmiddag in Pretoria vir die vierde keer as Noordvaal Cup kampioen gekroon ná ’n titaniese stryd met hul buurskool, Waterkloof.

Vergeet maar van die Bolandse skole-derbies op die rugbyveld, want die aksie, opwinding en spanning wat Saterdag in die Noordvaal Cup (Beker-afdeling) se eindstryd op Hoërskool Waterkloof se veld gesien was, staan nie ’n tree terug vir enige ander skole-derby in Suid-Afrika nie.

Dit was oorlog, amper burgeroorlog, want dit was Waterkloof teen hul bure ’n ent daarvandaan af in Solomon Mahlangu-weg. Skolerugby op sy heel beste met sommige van die stad se beste skolespelers in aksie. Die oudste en mees prestigeryke trofee in skolerugby Noord van die Vaalrivier was boonop op die spel.

Uit ’n neutrale oogpunt  was dit jammer dat daar ’n wenner moes wees, want albei hierdie spanne het vanjaar ’n spesiale storie gehad om met die vreugde van sukses af te sluit. Toe die eindfluitjie egter blaas was dit Garsfontein wat met 36-30 gewen het om as 2024 kampioen gekroon te word.

Daar was nie plek vir ’n muis rondom die Klofies se A-veld nie. Sowat 7500 ondersteuners van dié twee skole het rondom dié rugbyveld saamgepak om die grootste skolerugby gebeurtenis van die seisoen in Gauteng te aanskou.

Toe die aksie en spanning verby was, kon die Garsie Bere tong uitsteek vir al die doemprofete wat hulle aan die begin van die seisoen afgeskryf het. Naas Botha het immers jare gelede gesê die Curriebeker word nie in Meimaand gewen nie… Wel, die Noordvaal Cup óók nie. Dis ’n marathon, nie ’n naelloop nie. En die Garsie Bere het dit met hierdie uitslag onderstreep.

Garsfontein se span, wat die titel moes verdedig, was toe soos ’n ou dieselenjin wat stadig is om warm te word. Saterdag het dié enjin egter weer op al sy silinders gevuur, wat Luan Olivier en sy makkers in staat gestel het om laaste te lag.

Ongelukkig vir Waterkloof was dit wéér ’n wedstryd van twee totaal verskillende helftes vir hulle. Die Klofies was vinnig uit die blokke en het die grootste deel van die eerste helfte byna alle aspekte van die spel – behalwe die vaste srums – oorheers.

Garsfontein se kaptein, Luan Olivier, wat die wendrie vir sy span gedruk het, soen die beker.
Foto: Frans Lombard

Teen rustyd was die telling 20-14 in die tuisspan se guns, maar dit weerspieël nie heeltemal die wyse waarop Waterkloof daardie eerste 35 minute op die aanval oorheers het nie.

Garsfontein se tweede drie het egter reeds die kenmerk gedra van die wyse waarop hulle uiteindelik sou wen. Die Klofies het byna geen antwoord gehad op Garsies se teenaanvalle as hulle na willekeur besit omgekeer het nie.

In die tweede helfte het die gety opmerklik gedraai, met die besoekers wat van die afskop af verwoed aangeval het.

Terwyl die Garsie Bere balbesit in dié helfte oorheers het, het hulle wéér ’n paar keer gaan druk van omkeer besit. In dié gevalle is die bal vinnig na die punte geskuif, waar die besoekers nét te veel spoed en vaardighede gehad het. Veral linkervleul Junaide Stuart, wat twee skitter drieë gedruk het, het die Klofies se verdediging telkens na lug laat gryp.

Lig egter die hoede vir die dapper poging van Waterkloof. Hulle het eenvoudig geweier om te gaan lê. Toe hulle tien minute voor die einde met 20-31 agter was, het almal gedink dis gedane sake. Die Klofies het egter verwoed teruggeveg en ná ’n strafdrie – nadat Garsfontein ’n dryfmaal beweging laat val het by die doellyn – was hulle terug in die wedloop.

Selfs nadat Garsfontein wéér gaan druk het met vier minute oor, het Klofies kop gehou, ’n strafdoel behaal en hulself weer ’n kans gegee om te wen as hulle ’n verdoelde drie kon behaal. Dít het so byna gebeur, maar toe Happy Makate struikel nadat hy halfpad deur ’n gaping is, het die Klofies se seisoen geëindig.

As daar egter ooit waardige finaliste was, dan is dit hierdie span van Waterkloof, wat met ’n klein bietjie geluk beslis self die titele kon wen.

 

LW: Meer volledige berig met nog foto’s en video’s volg later.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version