Overkruin se Ratels gee woema aan skool se halfeeu-fees met Noordvaal titel

Hoërskool Overkruin se eerste rugbyspan het die afgelope naweek nuwe betekenis gegee aan die gesegde “aanhouer wen”, toe hulle as Noordvaal kampioen (Afdeling 2) gekroon is.

Toe Hoërskool Overkruin se eerste rugbyspan vanjaar nie die Stadsbeker eindstryd kon haal nie, het die meeste van hul teenstanders – én waarskynlik selfs van hul ondersteuners – gedink hul seisoen is verby.

Die Ovies se eerstespan word egter nie verniet die Ratels genoem nie, want ’n Ratel is ’n taai gedierte en gee nooit op nie. Hy veg tot die bitter einde.

Hoewel die eerste deel van hul seisoen nie volgens plan verloop het nie, het die Ovie Ratels egter goed genoeg gedoen om vir die uitspeelwedstryde in die groter Noordvaal liga (Afdeling 2) te kwalifiseer. Dis toé dat die Ratels begin vasbyt en weier om weer te los…

In hul eerste uitspeelstryd het Overkruin met Hoërskool Oosterlig (Boksburg) afgereken deur hulle met 29-13 te klop.

Toé kom die Bloubul Stadsbeker kampioen in hul liga, Midstraem College, aan die beurt. Die span van Centurion was die gunsteling, nadat hulle Overkruin vroeër in die Stadsbeker ligafase in ’n taai stryd met 33-27 geklop het. Maar hierdie keer het hulle in die Noordvaal kwarteindstryd met ’n heel ander Overkruin te doen gehad en die Ratels het met 42-37 gewen.

In die spannende Noordvaal halfeindstryd het die Ovier Ratels die gedugte span van Hoërskool Ermelo met 30-29 geklop.

Toe breek die afgelope naweek se eindstryd aan en die Ratels moes na Rustenburg reis om die Bergsig Akademie, wat verlede jaar ook in die eidstryd gespeel het, aan te durf.

Wéér was dit kliphard en spannend – die soort wedstryd waarin die taaiheid van ’n Ratel nodig is om vas te byt totdat die eindfluitjie blaas.

Bergsig het goed begin en regdeur die grootste deel van die wedstryd voorgeloop, maar die Ovie Ratels het weereens nie ’n tree teruggestaan vir hul meer gerekende teenstanders nie. Teen rustyd was die telling 10-6 in die tuisspan se guns,

Toe kom die tuisspan met ’n reuse aanslag vroeg in die tweede helfte en met ’n kwartier se speeltyd oor was hulle met 27-11 voor.

Twee drieë kort na mekaar vir die Ovie Ratels deur Waylon Oncke (regtervleuel) en Victory Akinwunmi (agtsteman) het egter gesorg vir ’n spannende einde.

’n Strafdoel deur losskakel Marius Rademeyer het die telling vier minute voor die eindfluitjie op 28-27 in Overkruin se guns laat staan. Toé kom daardie laaste spannende minute en die Ratel-mentaliteit moes behoorlik inskop om vas te byt.

Toe die skeidsregter egter die eindfluitjie blaas, was die Ovie Ratels die nuwe Noordvaal Afdeling 2 kampioen en die feesvieringe kon behoorlik begin.

Dié prestasie kry groter betekenis vir die skool, aangesien dit behaal is in die jaar waarin die skool hul 50ste bestaansjaar vier.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version