Garsies, Klofies maak geskiedenis met Pretoria-eindstryd

Die droom-eindstryd het waar geword – dis Klofies teen Garsies in die Noordvaal Cup eindstryd, wanner dié twee spogskole se eerstespanne mekaar eerskomende Saterdag op Hoërskool Waterkloof se veld gaan pak om die staanplek van die trofee in hierdie gesogte toerooi se prestige Beker-afdeling te bepaal.

Pretorianers met ’n voorliefde vir skolerugby sal eerskomende Saterdag vir die eerste keer in 18 jaar kan opruk na ’n eksklusiewe Pretoria-eindstryd in die Noordvaal Cup (Beker afdeling), wanneer Hoërskool Waterkloof gasheer sal speel vir hul bure, Hoërskool Garsfontein.

Dít volg nadat Waterkloof en Garsfontein die afgelope naweek in twee spannende halfeindstryde onderskeidelik met Hoërskool Monument (35-34) en Hoërskool Dr. EG Jansen (27-25) afgereken het.

Beide hierdie eindstryde was tot in die laaste minuut in die weegskaal, nadat die twee skole uit die Wes- en Oosrand baie hard geveg het om vir die eindstryd te probeer kwalifiseer.

Die laaste keer dat twee Pretoria skole in die eindstryd van hierdie toernooi (voorheen die Administrateursbeker; Direkteurstrofee; Beeldtrofee en VirSeker Beker) teen mekaar te staan gekom het, was in 2006, toe Affies vir Waterkloof geklop het. Affies het daarna uit die toernooi onttrek.

– Die Klofies het so byna die oorwinning deur hul vingers laat glip, nadat hulle halfpad deur die tweede helfte nog redelik gerieflik voorgeloop het.

Monnas het egter met ’n reuse eindpoging na vore gekom en in die doodsnikke hul vyfde drie gaan druk om die punteverskil op een punt te staan te bring. Ongelukkig vir die Wesranders, maar tot groot verligting van die Klofie-ondersteuners, was die doelskop egter skeef.

Klofies se groot held was heelagter Ronan Bastiaanse, wat 20 punte aangeteken het, nadat hy een van die span se vier drieë gedruk en ook met drie doelskoppe en drie strafdoele geslaag het.

– Hoewel Garsfontein nooit heeltemaal beheer verloor het nie, is hulle kort na rustyd onder groot druk geplaas toe EG Jansen binne een minuut twee keer gaan druk het. Die tuisspan het teruggeveg, maar toe die Boksburgers se groot flank, Zade-Leigh Rippenaar, drie minute voor die einde in die hoek oorduik, is die Garsie Bere se karakter behoorlik getoets.

Daar was minder as een minuut speeltyd oor toe die Garsies se SA o.18 ster, Brooklyn Newman, die bal op die kwartlyn ontvang. Hy het eenvoudig sy ore platgetrek en met vernuf en spoed die verdedigers deur ’n buite-gaping geklop om daarna in die linkerhoek oor te duik vir die wendrie.

Newman was dalk die held van die oomblik, nadat hy vroeër in die week nog vir die nasionale o.18 span uitgedraf en het Saterdag eers in die tweede helfte speelkans gekry het. Moet egter nie vergeet hoe hierdie drie gebeur het nie.

Die opbou daarna – toe die Garsfontein span onder groot druk die bal sonder enige foute deur elf fases gedra het – was eintlik die gróót prestasie. Dít het die kenmerk van ’n kampioenspan gedra. ’n Span wat op die regte oomblik onder soveel druk daardie soort momentum kan bou, kan nooit in enige eindstryd afgeskryf word nie.

Daar is bittermin te kies tussen die twee spanne en Saterdag se eindstryd gaan een van daardie wees wat uitstaan in die geskiedenisboeke.

Waterkloof, wat ook in 1992, 2003, 2007 en 2008 die kampioen was, het die laaste van hul vyf titels tot dusver in hierdie toernooi in 2011 gewen. Dis ongeveer ook die jaar waarin Garsfontein begin het om hul rugbyprestasies op standard te bring, nadat hulle vroeër as jong skool nie werklik kompeterend was nie.

Intussen het die Garsie Bere hulself gevestig as een van die heel bestes in die land, wat gereeld onder die top vyf op die kenners se skole ranglyste pronk.  Hulle het hierdie titel die eerste keer in 2015 gewen en dié prestasie daarna in 2016 en 2023 herhaal.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version