Drie honde baklei vir laaste halfeind-been in Castle Carltonbeker

As Tukkies kan voortbou op hul vertonings van die afgelope twee weke, kan die studente nog ’n groot bedreiging word vir Centurion of die Northam Wolwe, wat albei saam met hulle om die vierde plek in die Castle Carltonbeker halfeindrondte gaan baklei.

Daar is enkele weke oor in die ligafase van die Castle Carltonbeker toernooi en dit lyk al hoe meer of die finale halfeindstryd kandidate eers op 10 Augustus met die laaste ligawedstryd tussen Tukkies en die Northam Wolwe bepaal gaan word.

– Harlequins het die afgelope naweek met hul oorwinning van 39-34 oor Centurion verseker dat hulle vir die halfeindrondte kwalifiseer, ten spyte van die feit dat hulle nog twee ligabepalings oor het.

Centurion het die pap sommer vroeg dik aangemaak en binne die eerste twintig minute het hulle reeds twee keer die doellyn gehaal.

Quins het egter nie op hulle laat wag nie en self die bal begin rondgooi. Tien minte later, na ’n halfuur se spel het hulle óók twee keer gedruk.

Harlequins het die afgelope naweek met hul oorwinning van 39-34 oor Centurion verseker dat hulle vir die halfeindrondte kwalifiseer. Foto: Facebook

Die besoekers het net voor rustyd weer gedruk om die telling teen die draaislag op 19-15 in hul guns te staan te bring.

Vroeg in die tweede skof was dit Quins wat eerste gedruk het, maar kaptein Albert Bakker se drie het nie net die skaal weer in Centurion se guns laat swaai nie, maar ook aan die besoekers hul bonuspunt besorg.

’n Onderskepdrie deur die oud Centurion-man, Ian Trollip, het die wipplank-ryery laat voortduur. Uiteindelik het albei spanne vyf keer gedruk en slegs skopwerk het die verskil gemaak.

Centurion kan egter met reg voel dat hulle beroof is in hierdie wedstryd, nadat ’n drie gekanselleer is en Bakker op aandrang van ’n assistent skeidsregter met ’n geel kaart gestraf is, nadat hy op die aanval twee verdedigers afgestamp het. Dié skokkend-swak beslissing kan Centurion uiteindelik ’n plek in die halfeindrondte kos.

’n Mens wonder of die wedstrydbeamptes vergeet het dat hierdie wedstryde deesdae opgeneem en uitgesaai word.  Dié beslissing was só belaglik, dat dit selfs as verdag beskou kan word as die finale uitslag in ag geneem word.

– Op die Tuks sportkampus in Hatfield het die studente tien drieë ingeryg om die Grizzlies van Tuine uiteindelik met 68-36 te klop.

Soos met baie van die Grizzlies se vorige wedstryde kan weer gesê word dat die telling nie ’n ware weergawe van die spel is nie, maar meer ’n refleksie van die groot verskil in die Grizzlies se vermoë op die aanval en die verdediging.

Tuks sal weet hulle was in ’n stryd betrokke en die manne uit die Weste van die stad het self vyf keer gaan druk, terwyl hulle wéér nooit wou gaan lê nie.

Die studente was egter lus vir hardloop en hulle het vanuit elke hoek van die veld aangeval, terwyl die Grizzlies se verdediging eenvoudig net nie goed genoeg was op hierdie vlak nie. Hierdie span van Mick Helena kort dalk net ’n paar sterre in sekere posisies en ’n goeie verdedigingsafrigter om werklik kompeterend te wees in die liga.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version