Local sportSport

Affies klop Klofies, Garsies klim die punteleer

Met die SDC Noordvaal Cup toernooi wat einde se kant toe staan, lê daar lip-lek lekker skolerugby voor in die volgende paar weke, nadat ’n paar verrassings die afgelope naweek ‘n groot invloed op die punteleer gehad het.

Hoërskool Waterkloof het Saterdag op hul tuisveld ’n duur les geleer toe hulle, ten spyte van ’n dapper poging, met 43-28 deur die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) geklop is.

Die les wat Riwan van Aswegen en sy spanmaats geleer het is dat daar teen ’n top span soos Affies nie tweede kanse is nie. Veral nie op die verdediging nie.

Klofies het hiermee slegs hul tweede nederlaag in 16 wedstryde vanjaar gely, terwyl Affies weer hul rekord teen hul ou vyand verbeter het met hul vyfde agtereenvolgende oorwinning sedert 2017, toe Waterkloof die laaste keer daarin kon slaag om hulle te klop.

– Hoewel die twee spanne baie goed teen mekaar opgeweeg het, was die verskil tussen die twee waarskynlik die besoekers se dryfspel en Klofies se “sagte” oomblikke op verdediging, wat aan Affies geleenthede geskep het om te druk.

Waterkloof het hul man goed gestaan teen Affies se veelbesproke pak voorspelers. Trouens, behalwe vir die dryfbewegings van Affies wat die tuisspan behoorlik besig gehou het, was daar bittemin verskil tussen die twee pakke voorspelers, met Waterkloof wat die vaste skrums vir die grootste deel van die wedstryd oorheers het.

Die besoekers se derde drie het juis gekom na ’n onwettige skrum (Affie-vaskop se knie op die grond), wat deur die beamptes misgekyk is. Waarom sou ’n assistent skeidsregter oor so-iets stilbly as dit reg voor hom gebeur?

Waterkloof sou hopelik lesse uit hierdie wedstryd geleer het wat hulle tot hulp kan wees in die laaste deel van hul veldtog in die Noordvaal Cup toernooi.

Kan meneer die assistent skeidsregter/lynregter, wat reg langs hierdie skrum op die kantlyn gestaan het, dalk veduidelik hoe Affies nié hier gestraf is nie en toegelaat is om ‘n drie van die skrum af te druk…?

– Vir Hoërskool Garsfontein was daar uiteindelik ’n bietjie geluk, nadat hulle tot dusver hierdie seisoen nie veel hiervan gehad het nie.

Die geluk het niks te doen met hul oorwinning van 44-37 oor Hoërskool Noordheuwel nie. Dié oorwinning het hulle verdien, veral na hul puik vertoning in die tweede helfte, wat vyf drieë opgelewer het.

Daarenteen vlei die telling die span uit die Wes-Rand effens, aangesien hulle slegs drie keer die doellyn kon haal. Garsies sal egter aan hul dissipline moet werk, want hulle het teen Noordheuwel gesien hoeveel skade ’n goeie skopper kan aanrig.

Noordheuwel was teen rustyd nog met 19-13 voor, nadat hulle daarin geslaag het om die Garsies kort voor die draaislag vir byna vyf minute te verhoed om te druk, terwyl die tuisspan in die rooi gebied op die aanval geboer het.

Die tweede helfte was egter ’n ander storie, met die tuisspan wat uiteindelik hul snelrat kon vind.

Wat die geluk betref, het Hoërskool Nelspruit (klop Hoërskool Monument 21-12) en Hoërskool Rustenburg (klop Helpmekaar Kollege 31-19) die Garsie Bere ’n reuse guns bewys. Hierdie uitslae beteken dat Garsfontein oor Monnas en Helpies se koppe kon spring op die punteleer en nou in die derde plek lê ná Hoërskool Dr. EG Jansen en Waterkloof.

– Intussen het Hoërskool Menlopark uiteindelik die verloor-albatros van hul nekke afgegooi ná ses agtereenvolgende nederlae, toe hulle Saterdag in Alberton ’n puik oorwinning van 40-33 oor Hoërskool Marais Viljoen behaal het.

Hoewel Menlo nie meer die uitspeelrondtes kan haal nie, het hulle hul neuse voor Marais Viljoen gekry om die houtlepel in die Beker-afdeling te probeer vermy. Eerskomende naweek moet die Parkies egter die witwarm span van Nelspruit op hul tuisveld in die Laeveld gaan pak. Na die Nellies se opspraakwekkende oorwinnings teen Garsfontein en Monument in agtereenvolgende weke, sal dit ’n bitter moeilike taak wees.

Menlo sal egter selfvertroe put uit die feit dat hulle Nelspruit in April vanjaar in die NWU Skolereeks ook in ’n weg-wedstryd geklop het.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

Back to top button