Dis drie-uit-drie vir Midstream College in Stadsbeker liga

Midstream College se eerste rugbyspan het hul onteenseglike heerskappy in die Blou Bulle se Stadsbeker liga vir Groot Skole bewys toe hulle Saterdag vir die derde jaar agtereenvolgens as kampioen gekroon is.

Midstream College se eerste rugbyspan het Saterdag op hul tuisveld ’n seldsame driekuns behaal toe hulle die Hoër Tegniese Skool John Vorster in die eindstryd van die Stadsbeker vir Groot skole met 39-19 geklop het.

Die glorie het vir Midstream egter nie opgehou by hul eerstespan se sukses nie. Ook hul o.15’s is as Stadsbeker kampioen gekroon toe hulle ’n spannende stryd teen Hoërskool Centurion met 15-14 gewen het.

Hoewel die skool se o.14 span ook die eindstryd gehaal het, is hulle deur Centurion met 17-9 geklop.

Jahred Smit, kaptein van Midstream se eerstespan, ontvang die Stadsbeker trofee van die skoolhoof, Dr. Carel Kriek.
Foto: Facebook

– Na ’n aanvanklike armdruk stryd in die eerste kwartier van die eerstespan wedstryd, het Midstream se deurbraak gekom toe hul eerste drie gedruk is vanaf ’n lynstaan naby die doellyn. Die bal is deur ’n paar fases geneem voor die loskopstut oorgebars het om af te rond.

Halfpad deur die eerste helfte het die tweede drie gevolg en hierna was die druk op die besekers. Hulle het egter vyf minute voor rustyd self gaan druk om die telling effens te laat krimp.

Net voor die einde van die eerste helfte het Midstream egter weer toegeslaan met ’n puik drie, wat die rustyd telling op 21-7 in hul guns te staan gebring het.

Nathan Judelsohn, slot van Midstream, gaan oor die doellyn vir een van sy span se vyf drieë.
Foto: Facebook

Soos dit ’n eindstryd betaam het die tweede helfte selfs meer aksie opgelewer, nadat beide spanne die tempo verhoog het. Midstream het weer eerste gedruk ná nog ’n indrukwekkende paar fases vanaf ’n lynstaan.

Twee suksesvolle strafdoele het die druk weer laat oplaai vir die besoekers. Hulle het egter aanhou veg en weer gaan druk.

Toe Midstream se vyfde drie tien minute voor die eindfluitjie gedruk is, was dit neusie verby vir HTS John Vorster. Hulle het wel ’n troosdrie in die doodsnikke van die wedstryd gedruk, maar teen daardie tyd kon Midstream se naam al op die trofee gegrafeer word.

Midstream se wenspanne sal nou aan die Noordvaal Cup (Groep 2 liga) oor provinsiale grense deelneem teen die bestes van die Pumas, Valke en Limpopo.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

Exit mobile version