Vierde agtereenvolgende Stadsbeker titel vir Die Wilgers se rugbyhelde

Hoërskool Die Wilgers se eerste rugbyspan is Saterdag op Loftus Versfeld vir die vierde keer agtereenvolgens as die Blou Bulle se Stadsbeker kampioen in Afdeling 3 vir Medium skole gekroon.

Vier uit vier. Dít is die besondere prestasie wat Hoërskool Die Wilgers se eerste rugbyspan Saterdag op Loftus Versfeld behaal het toe hulle Hoërskool Erasmus van Bronkhorstspruit met 37-7 in die Stadsbeker eindstryd (Medium skole, Groep 3) geklop het.

Wat Die Wilgers se prestasie meer merkwaardig maak is die feit dat al hul spanne weer vir hul onderskeie eindstryde gekwalifiseer het en almal boonop as kampioene gekroon is.

Die o.14’s het teen Curro Hazeldean gespeel en met 30-12 gewen. Daarna het die o.15 span ook teen Erasmus te staan gekom. Dié span het met 12-7 die wa deur die drif getrek teen die Bronkhorstpruiters.

Ook in die o.16 eindstryd was dit Die Wilgers en Erasmus wat mekaar die stryd aangesê het en in dié wedstryd het Die Wilgers se seuns amok gemaak deur met 55-24 te seëvier.

In die wedstryd tussen Die Wilgers en Erasmus se eerstespanne het die eerste helfte nog redelik taai verloop, met Die Wilgers wat vir die grootste deel van dié skof met 6-0 voorgeloop het ná twee strafdoele. Kort voor rustyd het Die Wilgers egter ruimte aan die linkerkant van die veld gevind vir hul eerste drie, wat die rustydtelling op 11-0 te staan gebring het.

In die tweede skof het Erasmus vroeg toegeslaan toe hulle ’n losbal deurgeskop het om hul enigste drie te druk.

Daarna was dit eenrigting verkeer en Die Wilgers se oorheersing voorlangs het hulle in staat gestel om nog vier keer te druk om hul heeskappy in hierdie liga weer te onderstreep.

Hierdie prestasie verseker ook nou dat Die Wilgers se spanne almal aan die volgende fase in die Noordvaal Cup se toernooi vir medium skole oor provinsiale grense heen sal deelneem.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version