Local sportSport

Sonneblom Jukskeiklub kyk terug op nog ’n jaar van sukses

Die Sonneblom Jukskeiklub in die Moot van Pretoria se jaarlikse prysuitdelingsfunksie was onlangs weer ’n weerspiëling van die sukses wat die klub se lede tydens die afgelope seisoen behaal het.

Die Sonneblom Jukskeiklub se jaarlikse prysuitdelingsgeleentheid, wat aan die einde van die amptelike seisoen aangebied word, het onlangs weer gedien as getuienis van dié klub se sukses in die seisoen wat verby is.

Terwyl sommige lede vereer is vir hul lojaliteit en harde werk, kon ander weer die vreugde van hul sukses op die baan herdenk met die trofees en sertifikate wat hulle ontvang het.

Daar is die afgelope seisoen weer deeglik kennis geneem van hierdie goedgeorganiseerde klub tydens Noord-Gauteng ligas.

Die klub se C-1 en C-2 spanne het albei hul ligas gewen, terwyl die D-span die klub se wisseltrofee gewen het as Span van die Jaar, nadat hulle die beste gevaar het tydens die sogenaamde “Senior Burger” toernooi in Kroonstad.

Altesaam 14 van die klub se spelers het in April vanjaar tydens hierdie toernooi in Kroonstad hul staal gaan wys. Tydens die toernooi het die klub se spanne só goed gevaar dat hulle byna skoonskip gemaak het toe die medaljes uitgedeel moes word.

Een van die tradisies wat die klub uniek maak is ook afgehandel voordat die pryse tydens die onlangse funksie uitgedeel is. Die “koekgooi” kompetisie is deur Johan van der Merwe gewen. Tydens dié kompetisie wen die speler wat ’n skei die naaste aan ’n pen kan gooi die koek, wat deur die vorige jaar se wenner verskaf moet word.

Na afloop van die amptelike prysuitdelingsfunskie is daar heerlik gekuier tydens ’n bring-en-braai geleentheid.

Die Sonneblom Jukskeiklub nooi weer enige belangstellendes om by hulle aan te sluit en nie net die liggame gesond te hou deur op die jukskeibaan aktief te bly en deel te neem nie, maar ook die geleentheid aan te gryp om sosiaal tussen nuwe vriende te verkeer.

Hoewel daar aan ligas deelgeneem word, is daar ook geleentheid vir diegene wat slegs op sosiale vlak wil jukskei speel. Die ligas is tans afgehandel, maar in die wintermaande speel lede van die klub steeds elke Maandag en Woensdag tussen 08:30 en 10:30 in die oggende by die jukskeibane op die hoek van Swemmerstraat en 18e laan in Rietfontein, oorkant die Moot hospitaal.

Skakel die voorsitter, Pieter Naudé, by 082-615-4974 vir enige verdere inligting.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

Back to top button