Local sportSport

Loftus-200 wys krag van klubrugby met oorwinning oor internasionale span

Op die vooraand van die rugby-toets tussen die Springbokke en Ierland op Loftus Versfeld, het nóg ’n internasionale rugbywedstryd ’n paar kilometer daarvandaan by die Harlequins klub in Groenkloof plaasgevind toe die verteenwoordigende Loftus-200 span teen die nasionale span van Uganda uitgedraf het.

’n Groep spelers uit die Castle Carltonbeker toernooi het die afgelope naweek weer die geleentheid gekry om op hoër vlak en met die Bloubul madeliefie op die bors verteenwoordigende rugby te speel.

Die herlewing van die Loftus-200 span was in 2018 een van die eerste projekte onder die nuwe adminisrasie by Loftus Versfeld, nadat Willem Strauss as president van Blou Bulle Rugby-unie gekies is. Dié span, wat saamgestel word uit sterre van die Carltonbeker liga, was Vrydagaand weer in askie.

Al die Carltonbeker klubs is verteenwoordig, behalwe Tuks, wat verlede week aan die Universiteite Sport Suid-Afrika (USSA) toernooi deelgeneem het.

Op ’n koue aand by die Harlequins klub in Groenkloof het die Loftus-200 span, afgerig deur Riaan Brand (Centurion) en Mick Helena (Grizzlies), die toeskouers se harte warm gespeel deur hul teenstanders, die nasionale span van Uganda, met 38-35 te klop.

In die ware gees van feesrugby het dié wedstryd agt puik drieë opgelewer.

Hoewel die tuisspan meer as dubbel soveel drieë (ses teen twee) as hul internasionale teenstanders gedruk het, het Uganda se briljante losskakel, Ivan Magomu, sy span met sy skopskoen in die wedstryd gehou. Hy het 25 van sy span se 35 punte aangeteken met ses strafdoele, twee doelskoppe en ’n skepdoel.

Hoewel die manne uit Sentraal Afrika slegs twee drieë gedruk het, het hulle hul plaaslike teenstanders se verdediging baie goed beproef met positiewe, aanvallende rugby.

Die span van Uganda (tans 36ste op Wêreldrugby se ranglys) het groot drome en ambisie, veral nadat hulle in November verlede jaar die Victoria Cup toernooi gewen het. Dié toernooi word jaarliks aangebied met Uganda, Zimbabwe (tans 30ste op die wêreldranglys), Kenia (34ste) en Zambië (67ste) as deelnemers.

Met die uitbreiding van die wêreldbeker toernooi van 20 na 24 spanne in 2027, sal Afrika as kontinent die geleentheid kry om moontlik ’n derde span daarheen te stuur. Suid-Afrika kwalifiseer outomaties en die wenner van volgende jaar se Afrikabeker toernooi sal ook ’n plek verseker. Dan is daar nog ’n geleentheid beskikbaar vir die finalis in die Afrikabeker toernooi. Dié span sal teen ’n teenstander uit die Asië-groep moet uitspeel vir ’n kans om as derde Afrika-land te kwalifiseer.

Die amptelike administrasie van Ugandese rugby werk hard aan die ontwikkeling van hul nasionale span om ten minste volgende jaar die Afrikabeker eindstryd te probeer haal. Daarom het hulle hierdie geleenthed aangegryp om teen die Loftus-200 span te kom speel om aan die span top blootstelling in Suid-Afrika te gee.

Terwyl die adjunk Hoëkommisaris van Uganda, Kintu Nyago, en die president van dié land se rugby-unie, Godwin Kayangwe, albei die wedstryd bygewoon het, het hulle ook ná die aksie verras deur Willem Strauss en ander plaaslike rolspelers met spesiale eerbewyse te beloon.

 

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

Back to top button