Grizzlies skok Naka Bulle, Northam steel oorwinning in Centurion

Die wedloop na ’n plek in die halfeindrondte van die Castle Carltonbeker toernooi is byna in die peilvak en vyf spanne gaan oor die volgende maand sake uitspook vir die vier plekke in dié uitspeelfase.

Die Castle Carltonbeker toernooi van 2024 is in sy spreekwoordelike “business end” met die meeste spanne wat nog drie ligabepalings het om af te handel en elke wedstryd kan ’n invloed op die finale stand van sake hê.

As die afgelope naweek se uitslae ’n aanduiding is van dit wat kom, lê daar groot opwinding voor. Elkeen van dié uitslae het liefhebbers van klubrugby voorberei vir ’n interessante laaste vyf weke van aksie voor die uitspeelfase.

Met Grizzlies en Tuks basies uit die wedoop, is dit ’n vyf-perd resies op pad na die halfeindrondte op 17 Augustus.

– Centurion het Saterdag ’n gulde geleentheid verbeur om nie net hul eie posisie te verstewig en die gaping tussen hulself en die Northam Wolwe na ’n volle vyf punte op die punteleer te vergroot nie, maar hulle kon ook verhoed dat die Northam Rhinos die voorste plek inneem.

Riaan Brand se manne se wipplank seisoen duur voort, nadat hulle ’n opwindende wedstryd, wat sestien drieë opgelewer het, in die doodsnikke teen die Northam Rhinos met 47-48 op hul tuisveld verloor het.

Die Bosvelders se effens omstrede wendrie is in die 49ste minuut van die tweede helfte gedruk, nadat die skeidsregter die tuisspan vier keer in daardie nege ekstra minute gestraf het.

Die hardwerkende slot, Ruan Coetzee, een van Centurion se uitblinkers teen die Northan Rhinos, rank hoog om besit in die lynstaan te bemeester in Saterdag se Castle Carltonbeker wedstryd.
Foto: Koos Venter

Centurion sal ook nog lank wonder oor die strafdrie wat in die eerste helfte aan die besoekers toegeken is. Die video opname bewys dat Northam se heelagter, Ashwel Adams, die bal wild weggegooi het nadat hy van diep uit sy eie gebied aangeval het. Dis hoogs twyfelagtig of linkervleuel Elzandro Fredericks dié aangee sou kon bemeester as hy nie teen Centurion se kaptein, Albert Bakker, vasgehardloop het nie. Bakker is egter summier met ’n geel kaart gestraf en die strafdrie is toegeken.

Hoewel Centurion hierdie nederlaag moeilik sal verwerk, weet hulle ten minste nou dat hulle die Bosvelders kan klop.  Hulle sal ook moet erken dat hulle die manne van Northam in die wedstryd gehou het deur soms bitter swak te verdedig.

Daarby was dit vreemd dat Centurion se skerpskutter losskakel, Gido Horn, eers laat in die tweede helfte van die bank af op die veld verskyn het. Sy span het sonder hom immers 15 punte met verbroude skoppe na die pale verbeur.

Centurion se gevaarlike buitesenter, Giepie Burger, op die aanval teen die Northan Rhinos.
Foto: Koos Venter

– Soos Rekord vroeër in die seisoen voorspel het, het die Grizzlies van Tuine toe wel een van die top klubs verras voor die einde van die liga fase. Hierdie keer was dit die verdedigende kampioen, Naka Bulle, wat die slagoffer was toe hulle ’n skok-nederlaag in die Weste van stad teen hul bure van Tuine gely het.

Die Grizzlies het hierdie opwindende en spannende stryd – wat ook nie sonder omstredenheid verloop het nie – met 40-39 gewen. Naka Bulle sal nog lank kopkrap oor Theo Bosshoff se gekanselleerde drie, nadat die lynregter ’n “oortreding” uitgewys het wat na bewering reg voor die skeidsregter se voete plaasgevind het…

Dis sekerlik ook so dat die manne van die Moot sonder ’n paar van hul sterre gespeel het, maar daar was genoeg van hul bestes teenwoordig om die wedstryd maklik te kon wen as hul normale standaard in ag geneem word.

Naka Bulle het teen rustyd reeds drie keer gedruk, maar hul skopwerk was nie op standaard nie en dit het aan die tuisspan die geleentheid gebied om na daardie eerste 40 minute in hul nekke te blaas (15-13) ten spyte van die enkele drie wat hulle net voor rustyd gedruk het.

Hoewel die besoekers hul bonuspunt drie kort na rustyd gedruk het, het Grizzlies dadelik teruggeslaan met waarskynlik die drie van die wedstryd, toe hulle vanuit hul eie gebied aangeval het en met puik samespel die buitesenter, PJ Bezuidenhout, kon oorstuur.

Uiteindelik het hierdie wedstryd weer bewys watter belangrike rol ’n akkurate skopper vir enige rugbyspan kan speel. Terwyl Naka Bulle ses drieë teen Grizzlies se vier gedruk het, was dit Rodwell Baadjies se skopskoen wat al vier drieë verdoel het én twaalf punte met strafdoele bygevoeg het om die verskil vir die tuisspan te maak.

Harlequins se driedrukkers in Saterdag se wedstryd teen die Northam Wolves. Van links is Dwayne Weitsz, Brandon Cronjé, Divan Esterhuizen, Marnus Coetzee en Damian Fuller.
Foto: Facebook

– Harlequins kon Saterdag in Skeerpoort wraak neem teen die Northam Wolwe, wat hulle ’n maand tevore op hul tuisveld in Groenkloof getroef het.

Gert Mulder se manne het Saterdag die bordjies verhang deur die Wolwe op hul tuisveld daar teen die hange van die Magaliesberg met 31-29 te klop, nadat plaasvervanger agtsteman, Damien Fuller, kort voor die eindfluitjie die wendrie gaan druk het.

Beide spanne het positiewe rugby gespeel en die bal deurentyd die werk laat doen. Daarvoor is albei met ’n bonuspunt vir vier of meer drieë beloon.

Harlequins het met hul oorwinnig hul derde plek op die punteleer verstewig.

Eerskomende naweek sal die klubs ’n blaaskans kry, hoewel sommige van die spelers wel Vrydagaand vir die Loftus 200 span teen die nasionale span van Uganda sal speel.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version