Local sportSchool sportSport

Affies, Klofies onoorwonne by Wildeklawer toernooi

Die prestigeryke Wildeklawer skolesport toernooi, waar sommige van die land se heel beste skolesport spanne jaarliks in Kimberley teen mekaar kompeteer, is die afgelope naweek afgehandel en twee van die plaaslike deelnemers uit Pretoria het skitterende presteer.

Terwyl Hoërskool Waterkloof en die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) se eerste rugbyspanne by die afgelope Wildeklawer Skolesport toernooi hul wenpersentasie vir die huidige seisoen opgestoot het, was Hoërskool Garsfontein minder gelukkig en vir die Garsie Bere lê daar baie harde werk voor as hulle nog hul seisoen se skip wil omdraai.

Die Klofies en Affies het albei volpunte behaal met twee oorwinnings elk by die Wildeklawer toernooi in Kimberley, maar Garsies het twee keer vasgeval, hoewel hulle baie durf en karakter gewys het tydens hul vertonings.

– Waterkloof het die afgelope jaar of twee effens onder die rader beweeg en weens al die kalklig op die Garsies en Affies dalk nie altyd die erkenning gekry het wat hul toekom nie. Intussen het Cobus van Dyk se span voortgebou op verlede seisoen se belowende spel en hulself in die eerste fase van hierdie seisoen gevestig as ’n baie gedugte teenstander.

Waterkloof kon van die Wildeklawer toernooi af terugkeer met twee vyftigtalle teen gedugte skole. Die Klofies het eers met Outeniqua uit George in die Suid-Kaap (51-32) en daarna met Marlouw Landbou uit Cradock in die Oos-Kaap (52-24) afgereken.

Dit beteken dat die Klofies tot dusver vanjaar nege uit tien wedstryde gewen het en slegs daardie een nederlaag teen Paul Roos Gimnasium, een van die werklike reuse in skolerugby in die land, by die Noord-Suid toernooi gehad het.

Klofies het reeds die NWU Sportereeks gewen en sal dus nou in die volgende vier maande volstoom inklim om die Noordvaal Cup se Beker-trofee daarby te probeer voeg.  Eerskomende Saterdag sit hulle dié veldtog voort met ’n reuse stryd op hul tuisveld teen die beleërde verdedigende kampioen, Garsfontein.

– Affies se rekord is nou sewe uit nege tot dusver vanjaar, nadat hulle ook twee puik oorwinnings behaal het by die Wildeklawer toernooi.

Op dag een van die toernooi het Affies ’n wen-droogte van twaalf jaar verbreek teen die Hoër Jongenskool Paarl (Paarl Boys High), nadat hulle dié Kapenaars in 2012 laas kon klop. Affies het dit hierdie keer behoorlik gedoen met ’n oorwinning van 43-21.

Daarna het Affies op die laaste dag van die toernooi die gevaarlike manne van Oakdale Landbouskool in Riversdal in ’n buitengewoon fisieke stryd met 32-10 geklop.

Die Suid-Kapenaars is geen liggewig nie en het vanjaar al met skole soos Helpmekaar Kollege, Rondebosch High, Hoërskool Framesby (Port Elizabeth) en Garsfontein afgereken.

Affies sal nou ’n ruskans neem, waarna hulle een van hul oudste vyande, Grey Kollege van Bloemfontein op 18 Mei sal aandurf.

– Wat die Garsies betref, hulle het nie slegte rugby gespeel by die Wildeklawer toernooi nie, maar kon steeds nie met ’n oorwinning huistoe kom nie.

Tydens hul wedstryd teen Stellenberg van Belville in die Wes-Kaap was dit duidelik dat die Garsies, wat met 22-26 verloor het, effens verroes was. Hulle was immers voor dié wedstryd ’n maand laas in aksie toe hulle op 6 April teen Affies uitgedraf het.

’n Paar onnodige blapse deur die skeidsregter het Garsies ook duur gekos tydens hul stryd teen Stellenberg. Hulle is, onder andere, van die wendrie beroof, nadat die skeidsregter op baie twyfelagtige wyse beslis het dat daar ’n vorentoe aangee was in die beweging wat tot dié drie deur hul kryger-kaptein, Luan Olivier, gelei het.

Van uitblinkers gepraat, met werklike kwaliteit vaskopstutte wat baie skaars is in Suid-Afrika, hoop ’n mens dat die Bulls reeds verseker het dat Garises se vaskopstut, Luan van den Berg, na sy skoolloopbaan ’n Pretorianer gaan bly. Dié seun is nie net een van die sterkste skrumwerkers in die land op hierdie vlak nie, maar sy algemene spel is ook uitstekend.

Die Garsies het in hul tweede wedstryd, wat die hoofwedstryd van die laaste dag van die toernooi was, met 10-38 teen Grey Kollege verloor, maar hulle het baie karakter getoon en geveg tot die einde. Die Vrystaters was egter eenvoudig op ’n ander vlak en daar is waarskynlik nie ’n skolespan in die land wat hulle sal kan stuit as hulle in daardie soort bui is nie.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button