Local sportSchool sportSport

Klofies skop Noordvaal reeks af met reuse oorwinning, Menlo val vas teen Helpmekaar

Daar was die afgelope naweek gemengde sukses vir twee van Pretoria se mededingers in die top Beker-afdeling van die gesogte Noordvaal Cup skolerugby toernooi.

Met hul eerste silwerware in die vertoonkas, ná verlede week se sukses in die NWU Sportreeks, kon Hoërskool Waterkloof se eerste rugbyspan die afgelope naweek met groot selfvertroue hul veldtog in die land se oudste en mees gesogte skolerugby toernooi, die Noordvaal Cup, afskop.

Die Klofies het sommer in hul eerste wedstryd gewys dat hulle vanjaar ook in dié toernooi as ernstige kandidate op sukses beskou kan word, toe hulle Hoërskool Nelspruit op hul tuisveld in Pretoria met 61-17 afgeransel het.

Toe die tuisspan na slegs twee minute se spel reeds hul eerste drie aanteken, was dit duidelik dat daardie busrit terug Laeveld toe vir die Nelspruit manne baie lank gaan wees.

Terloops, die speler was daardie eerste drie gedruk het, Marko Kok, speel weekliks skitterende rugby vir Waterkloof. Daar is vanjaar weer ’n paar baie goeie agtstemanne in aksie vir plaaslike skole, maar die 16-jarige Kok (hy word in Oktober eers 17) het Saterdag weer gewys dat die speler wat hierdie seisoen die Blou Bulle se nommer-agt trui by die Cravenweek in Krugersdorp wil dra, eers by hom verby sal moet kom.

Nóg ’n man wat waarskynlik sy mates kan laat neem vir die Blou Bulle se skolespan, is Waterkloof se buitesenter en kaptein, Riwan van Aswegen. Hy het twee van sy span se drieë gedruk, maar was by verskeie ander betrokke as spelskepper. Dié seun het alles om ’n ster te word op die rugbyveld – hy is vinnig, sterk, hy het ’n oog vir ’n gaping én boonop goeie hande.

Klofies het hul vierde bonuspunt-drie reeds ná ’n halfuur gedruk en teen rustyd het hulle al vyf keer agter die doellyn gaan kuier. Met ’n voorsprong van 35-12 sou dit ’n reuse poging van die Laevelders kos om terug te kom in die wedstryd.

Soos dié skool se amptelike sport-slagspreuk aandui, het hulle egter baie durf gewys en nooit gaan lê nie.

Waterkloof was egter té sterk voorlangs en té vernuftig agterlangs. Ná nege drieë het die tuisspan hul voet waarskynlik in die laaste tien minute effens van die pedaal afgehaal. Dit het aan die Laevelders kans gebied om ’n troosdrie kort voor die eindfluitjie te druk, maar dié span moes ongelukkig sonder enige ligapunte huis toe gaan.

– Aan die ander kant van die N1 snelweg het Hoërskool Menlopark se stryd op hul tuisveld teen Helpmekaar Kollege in ’n sege van 31-19 vir die Johannesburgers geëindig.

Vir Menlo het die wedstryd byna rampspoedig begin, toe Helpmekaar binne twee minute in die linkerhoek oor die doellyn is, ná ’n paar fases in die rooi gebied.

Agt minute later het die besoekers wéér die lynstaan as platvorm gebruik en Menlo kon nie die dryfbeweging stuit nie.

Helpmekaar se derde drie was wéér vanaf ’n lynstaan in die kwartgebied aan die linkerkant van die veld. Hierdie keer het hulle wyd gespeel, met die heelagter wat kon insny en regdeur hardloop om onder die pale te druk.

Met ’n agterstand van 0-19 na 25 minute se spel, was al die druk op die tuisspan. Hul eerste punte het kort voor die rustyd fluitjie gekom toe linkervleuel, Wynand van Wyk, ná ’n mooi volle agterlynbeweging sy ore platgetrek het om in die hoek oor te duik. Rustydtelling dus 19-5 in Helpmekaar se guns.

Menlo se haker, Declan Pelser, het hul poging om die agterstand uit te wis begin met sy drie vroeg in die tweede helfte, wat die punteverskil na slegs sewe laat krimp het.

Nog ’n kragdrie deur Helpmekaar se voorspelers het egter dié gaping weer vergroot.

Van Wyk se tweede drie was ’n puik individuele poging, waar hy sy vaardighede én spoed gewys het en daarmee het die tuisspan wéér binne trefafstand van hul teenstanders gekom.

Swak verdediging deur Menlopark het egter hul kans verbrou, toe Helpmekaar se linkervleuel Pieter Möller, met ’n teenaanval van sy eie tientreelyn af gevorder het tot by die doellyn, waarna hy die flank, Zaiden Krige, kon oorstuur vir die wenpunte.

Menlopark het ’n paar desperate pogings aangewend in die laaste tien minute van die wedstryd, maar positiewe spel en goeie verdediging deur Helpmekaar het dit hulle verhoed om verdere punte aan te teken.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

Back to top button