Local sportSchool sportSport

Paarl Gim wen spannende stryd teen Affies

In ’n klipharde en spannende skole-derby, wat weer die krag van Suid-Afrikaanse skolerugby beklemtoon het, kon Paarl Gimnasium die afgelope naweek net-net daarin slaag om die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria op laasgenoemde se tuisveld te klop.

Nóg ’n Suid-Afrikaanse skole derby, nóg ’n bewys dat die oorsprong van die krag van Suid-Afrikaanse rugby by die sport op hierdie vlak gevind sal word.

Dít is waarskynlik die kort weergawe waarop Saterdag se spannende en opwindende skolerugby stryd tussen twee van die land se spog rugbyskole uit die Noorde en die Suide beskryf kan word, toe Paarl Gimnasium (Paal Gimmies) na Pretoria gereis het om die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) op hul tuisveld aan te vat.

In ’n wedstryd, wat deurgaans wipplank gery het en inderdaad enige kant toe kon swaai, het die seuns uit die Paarl uiteindelik naelskraaps met 19-20 gewen.

Die wedstryd was deel van die Sportsmans Warehouse Premier Interskole reeks, wat almal ook op TV uitgesaai word.

Maklik was dit beslis nie vir die span uit die Wes-Kaap nie en Affies het baie naby daaraan gekom om Paarl Gim se onoorwonne rekord tot dusver vanjaar kort te knip.

Die drie wat Affies se harte gebreek het…Gimmies se haastige regtervleuel, Immanual Prinsloo, op pad doellyn toe nadat hy ’n aangee van Affies op sy eie 22-meter lyn onderskep het.
Foto: Irma Ferreira

Die Pretorianers het voorlangs oorheers, terwyl hulle agterlangs net so lus was om die bal lug te gee soos hul teenstanders. Dit was veral in die vaste skrums waar die Kapenaars swaar geleef het, maar hulle het tog ’n manier gevind om dié uitdaging te oorkom.

Ná die haastige Immanual Prinsloo, Gimmies se regtervleuel, se eerste drie en twee strafdoele deur Affies se Ruben Pienaar, was daar in die rustydtelling ook net een punt verskil – 6-7 in die guns van die Kapenaars.

Kort na rustyd het die tuisspan se beste speler op die dag, linkervleuel Eagan Roux, ná ’n netjiese geoefende beweging gaan afrond. Dit het Affies vir die eerste keer in die wedstryd die voortou laat neem. Ná nog ’n strafdoel deur Pienaar was hulle selfs op een stadium met 16-7 voor.

’n Onderskep-drie deur Prinsloo, waarvoor hy sowat 70 meter onder die Affie verdedigers uitgenael het om onder die pale oor te duik, het die Kapenaars weer moed gegee en nader laat kruip op die telbord (16-14) en na ’n stafdoel deur losskakel Freek de Kock, was die Gimmies weer een punt voor (16-17).

Met nóg ’n stafdoel deur Pienaar het die tuisspan weer hul neuse voor gekry (19-17), maar Freek de Kock se laaste strafdoel met sowat agt minute speeltyd oor, het die eindtelling verseël.

Affies het nooit opgegee nie en hard geveg tot die einde, maar die manne van die Paarl kon vasbyt op verdediging om die knoop deur te haak.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button